Ramaphosa gaan as president teengestaan word

Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: PresidencyZA/Twitter

Pres. Cyril Ramaphosa gaan môre teengestaan word as presidentskandidaat – die opposisie gaan minstens een kandidaat teen hom stel.

Ook die ANC se benoemings as speaker van die Nasionale Vergadering (Thandi Modise) en adjunkspeaker (Lechesa Tsenoli) kan teenstand verwag, het die DA-leier, Mmusi Maimane, vandag gesê,

Dis nog nie duidelik of die EFF of ander opposisiepartye hul eie kandidate gaan stel, buite stemming gaan bly, die DA-kandidate gaan steun of vir Ramaphosa gaan stem nie. Die DA sal Woensdagoggend aankondig wie by vir die posisies benoem.

Die ANC het vandag verdere benoemings en aanstellings in die parlement aangekondig, waarvan sommiges die wenkbroue kan laat lig.

Die ANC-hoofsweep is Pemmy Majodina van die Oos-Kaap. Dorries Dlakude van Limpopo bly aan as adjunk-hoofsweep.

Ramaphosa sal tydens Woensdag se parlementsitting deur Majodina as president voorgestel word en gesekondeer word deur die minister van toerisme, Derek Hanekom.

Thandi Modise sal as speaker van die Nasionale Vergadering voorgestel word deur die minister in die presidensie, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, en gesekondeer word deur die ANC-LP Madala Ntombela.

Die huidige adjunkspeaker, Lechesa Tsenoli, sal weer deur die ANC in sy amp benoem word deur die ANC-LP Alvin Botes. Hy sal gesekondeer word deur die minister van samewerkende regering, dr. Zweli Mkhize.

In ʼn hoogs omstrede aankondiging het die ANC besluit om die huidige minister van omgewingsake, Nomvula Mokonyane, te benoem tot voorsitter van parlementere komiteevoorsitters. Dit gee haar enorme mag oor die begroting vir parlementere komitees en die wetgewende en oorsigprogram.

Mokonyane word tans van omvattende korrupsie beskuldig voor die Zondo-kommissie en hoewel dit beteken sy is haar kabinetsposisie kwyt, sal dit heelwat wenkbroue laat lig.

Donderdag sal die ANC die oudburgemeester van Johannesburg, Amos Masondo, voorstel as voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies. As sy adjunk sal voorgestel word Sylvia Lucas, oudpremier van die Noord-Kaap, wat jare gelede omstrede geraak het oor die bedrae wat sy aan kitskos bestee het.

Seiso Mohai sal die ANC-hoofsweep in die Nasionale Raad van Provinsies asook die voorsitter van die ANC se parlementere koukus wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

pit ·

Jip, dit bly maar n rowersnes, doet so voort, die skip se boeg verdwyn ook al amper onder die water met geen reddings boot in sig.

judie ·

Dit is sover al die beloftes om korrupsie uit te roei gekom het!!! Mnr. Rhamaphosa, onthou net, van ELKE woord wat uit jou mond gekom het SAL jy verantwoording MOET doen.

Ruiklont ·

Wat ‘n mors van tyd, skrik wakker DA en gebruik die bietjie energie wat jul het waar dit saakmaak

Waarheid ·

Ramapaddapot se korrupsie gaan aan en aan en aan……
Net n burgeroorlog gaan SA red soos Siener gese het.
Jammer daaroor maar dis n gegewe.

Piet ·

En presies hoe gaan ‘n burgeroorlog SA red? Dit gaan net verder afbreek wat reeds afgebreek is en as jy dink ‘n handjievol gaan ‘n oseaan vol oorwin is jy baie naief.

Michelle ·

Baie antwoord wat Ramaposa aan die land verskuldig is. Ek wonder of hy rustig slaap in die nag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.