Ramokgopa oortuig daar is lig in kragtonnel

Kgosientsho Ramokgopa (regs), minister vir elektrisiteit, tydens sy besoek aan Kusile (Foto: GCIS)

Kgosientsho Ramokgopa, minister vir elektrisiteit, is vol vertroue dat die land se probleme met beurtkrag opgelos sal word.

Ramokgopa het Dinsdag die Kusile-kragstasie in Mpumalanga besoek. “Die probleem van beurtkrag sal opgelos word. Uiteindelik sal die probleem van elektrisiteit in hierdie land ook opgelos word,” het hy gesê.

Ramokgopa het aan Kusile se senior bestuur gesê die regering sal waar moontlik help om beurtkrag te beëindig.

“Ons is almal saam hierin, die probleem van beurtkrag moet eindig.”

Ramokgopa het ʼn twee weke lange besoek aan Eskom-kragstasies onderneem. Dit is om eerstehandse ondervinding op te doen oor hoe die stasies funksioneer en watter probleme of uitdagings die bestuur van die kragstasies ondervind.

Ramokgopa het Maandag met besoeke aan die Kriel- en Duvha-kragstasie begin en Dinsdag die Kusile- en Kendal-kragstasie besoek.

“Ek is vol vertroue dat ons die elektrisiteitsprobleem gaan oplos. Ons sal eerlik en deursigtig wees oor waar ons nou staan wat die vordering betref.

“Ons het toegewyde mans en vroue met vaardighede by Eskom. Uit die samesprekings wat ons met Eskom voer, is dit duidelik dat die probleem van beurtkrag opgelos sal word,” het Ramokgopa gesê.

Volgens Ramokgopa lê die probleme by Kusile nie soseer by korrupsie nie, maar is eerder aan ʼn tegniese kant.

“Die probleme en uitdagings wat ons hier het, is tegniese probleme; dit het niks met sogenaamde korrupsie te doen nie.”

Ramokgopa is ook van plan om lede van die publiek in sy vertroue te neem oor die oplossing van die land se energiekrisis.

“Ons sal eerlik en deursigtig wees oor waar ons staan wat die oplossing van hierdie probleem betref. Ons sal deurlopend terugvoer gee aan verbruikers,” het hy gesê.

Tydens sy besoeke by die kragstasies het Ramokgopa samesprekings met senior bestuur en werkers gehou en is deurentyd ingelig oor Kusile se bedrywighede, uitdagings en programme wat ingestel is om die uitdagings aan te pak.

Bron: SAnews.gov.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.