Randburgse sakeman (92) bedrywig tot op die einde

Sarel Steyn is op 30 Junie oorlede. (Foto: Verskaf)

Sarel Steyn, ʼn sakeman van Randburg, is op 30 Junie dood nadat hy ʼn tyd lank in ʼn hospitaal in Olivedale in die noorde van Johannesburg verpleeg is. Hy was 92.

Gert Steyn, een van Sarel se vier kinders, het sy dood aan Maroela Media bevestig.

Eie aan sy karakter was dié vlytige sakeman en eienaar van die Exol-olieraffinadery tot die einde bedrywig. Hy het dié onderneming eers op die rype ouderdom van 70 jaar oorgekoop.

Gert vertel dat sy pa sy lewe lank rooimiere gehad het.

“Dit is maar net hoe hy was. Hy was altyd besig en het nie daarvan gehou om stil te sit nie. Baie mense op sy ouderdom het lankal afgetree, maar nie hy nie. Hy het altyd bygebly met die jongste tegnologie en was tot met sy dood nog besig op sy rekenaar,” sê hy.

Gert sê sy pa was altyd iemand na wie hy kon opsien en hy streef nou nog daarna om sy voorbeeld te volg.

“My pa was ʼn nederige mens, ʼn familiemens wat baie omgegee het vir sy geliefdes. Benewens dit het hy soveel dryfkrag gehad. Hy was oral betrokke en dit is net hoe dit was.”

Dryfkrag soos min

Sarel saam met van sy kinders, Marietjie, Gert en Jophia. (Foto: Verskaf)

In ʼn huldeblyk skryf sy kleinseun Jeanne Sterianos hoekom hy meen sy oupa so ʼn besonderse sakeman was.

Afgesien van die menigte grade wat hy verwerf het en die verskeie bestuursontwikkelingkursusse wat hy in Nederland en in die Verenigde Koninkryk voltooi het, was Sarel ook ʼn skrywer en sakeman van formaat.

Vir tien jaar van sy lewe het hy as sportjoernalis by Die Transvaler gewerk, maar eindelik sy tyd en passie, vir die volgende 62 jaar, aan die oliebedryf gewy.

In 1968 het Sarel as rekenmeester by Trek Petroleum, nou Engen, begin werk en ʼn florerende beroep daar gehad tot en met sy uittrede in 1993 as uitvoerende hoof.

Sy ware passie het egter by Exol-olieraffinadery gelê, waarby hy reeds in die 1970’s betrokke geraak het toe hy deur Engen as ʼn direkteur van die Exol-groep aangestel is. Ná sy aftrede by Engen is daar by hom gepleit om aan te bly as ʼn direkteur van die Exol-groep.

Ná dekades se betrokkenheid, bloed en sweet besluit hy toe op die ouderdom van 70 om die maatskappy ten volle oor te koop.

“Hy doen toe iets wat die meeste mense wat afgetree het, nooit sal doen nie. Hy gebruik sy spaargeld en pensioen om die maatskappy te koop waarvoor hy so lief was,” sê Sterianos.

“Hy wou ʼn nalatenskap vir sy familie los en om daardie rede het hy die maatskappy gekoop.”

Volgens Sterianos het Sarel op daardie stadium nog baie dryfkrag gehad en wou hy dit ten volle benut deur sy kundigheid tot die maatskappy se voordeel te gebruik.

“Hy kon natuurlik nooit lank stil sit nie, selfs nie in sy 90’s nie. Hy het die maatskappy opgebou tot ʼn reuseraffinadery met twee hooftakke in Krugersdorp en ander in Durban, Port Elizabeth, Virginia en Kaapstad.”

Sarel het in 2011 afgetree as voorsitter van die Exol-groep, maar aangebly as direkteur en meerderheidsaandeelhouer van die groep.

Volgens Gert is dié maatskappy steeds in die familie se besit en is hulle aktief by die bedrywighede betrokke.

Man van vele talente

Sarel saam met sy nou oorlede vrou, tannie Baby. (Foto: Verskaf)

Sarel was ook ʼn direkte afstammeling van die Voortrekker Sarel Cilliers. Sy oupa se ma was na verneem word die kleindogter van Cilliers en jare gelede is hy selfs deur die Voortrekkers gevra om ʼn krans op Cilliers se graf te lê.

Sarel het in verskeie kerkrade gedien en was ook eens op ʼn tyd ʼn reserviskaptein van die Suid Afrikaanse Polisie. Hiermee saam was hy die voorsitter van die Randburgse Kommando en het later op die hoofbestuur van die Federasie vir Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) gedien.

Hy was ook die beskermheer en erepresident van die Suid-Afrikaanse amateur-stoeifederasie en het gedien op die raad van die Potchefstroom Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys, nou die Noordwes-Universiteit.

Die Randburgse stadsraad en die voorsitters van Sanlam en Perskor het hom destyds ook vereer as ambassadeur en hy het pryse gewen vir uitstekende prestasie in die sakewêreld.

Sarel se groot liefde was egter lees, rugby kyk, vlieg en om herstelwerk tuis te doen. Hy was ʼn gekwalifiseerde vlieënier en kon vliegtuie van tot soveel as 6 ton vlieg. Hy het tot op die ouderdom van 79 jaar gevlieg.

“Hy het die wêreld gesien, skouers geskuur met presidente, ministers, bekende sakemanne en sporthelde, maar tog was hy altyd nederig en opreg. Hy was plat op die aarde en ʼn groot Christen wat altyd sy hoed afgehaal het as hy mense groet,” sê Sterianos.

“Hy was inderdaad ʼn legendariese man.”

Sarel word deur sy vier kinders, ses kleinkinders en ‘n paar agterkleinkinders oorleef.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Eugene ·

Yes hy is n legende in Randburg saam in met Oom Don Leonard….Ken sy kinders goed saam in Unika Laerskool ook Randburg Hoĕr…Plat op aarde mense hy laat n leemte after maar goeie gedagtes na..langs die rugbyveld met sy sambreel!!! Dankie Oom Sarel Dat jy as voorbeeld vir ons kon uitstaan!! Jesus groete!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.