RDK vra geduld in ondersoek na omstrede regter-president

Die Wes-Kaapse regterpresident, John Hlophe. (Foto: judgesmatter.co.za)

Die regterlike dienskommissie (RDK) het in ʼn ongekende stap Woensdag ʼn verklaring uitgereik waarin hy sê hy is die afgelope ruk oorval met navrae oor die klagte teen die Wes-Kaapse regter-president John Hlophe.

Maroela Media het vroeër berig regter Patricia Goliath, ʼn hoogs aangeskrewe regsgeleerde, het ʼn omvattende en ernstige klagstaat oor beweerde growwe wangedrag by die RDK teen Hlophe en sy vrou, regter Gayaat Salie-Hlophe, by die RDK ingedien. Al drie is regters in die Wes-Kaapse afdeling van die hooggeregshof.

Goliath se klagtes sluit bewerings van nepotisme en voorkeurbehandeling vir Salie-Hlophe in; dat daar ʼn klimaat van vrees en intimidasie heers en dat Hlophe sy kollegas fisiek en verbaal bedreig; dat Hlophe eensydig hofreëls verander; dat hy eensydig besluit het om die posisie van adjunk-regter-president af te skaf, asook dat hy inmeng in die aanstelling van waarnemende regters.

Hlophe meng glo ook in wanneer sake aan regters toegewys word in ʼn poging om die uitkoms daarvan te bewimpel. Hy het na bewering sy vrou, ʼn junior regter, aangewys om die hoëprofiel-moordverhoor van Jason Rohde te behartig en het glo probeer inmeng by die aanstelling van regters in die 2015-interregering-kernkragsaak. Hy het dit glo gedoen om die uitkoms ten gunste van die Jacob Zuma-geleide administrasie te bewerkstellig.

Die klagte het aan die publiek uitgelek en ʼn herrie ontketen.

Die RDK sê hy is sedertdien oorval met versoeke om kommentaar en het dus in ʼn ongekende stap besluit om oor die kwessie kommentaar te lewer. Die RDK sê hy wil weereens bevestig dat die regterlike gedragskomitee die klagte behoorlik gaan hanteer. Regter Raymond Zondo is voorsitter van dié komitee wat uit verskeie senior regters bestaan.

Die komitee sê hy moet die kans gegun word om die klagte te hanteer in ooreenstemming met bepalings in die Wet op die Regterlike Dienskommissie.

Die hooggeregshof in Kaapstad.

“As regters word lede van die regterlike gedragskomitee verplig om alle klagte sonder vrees, guns of vooroordeel te hanteer en hulle gaan dit doen so gou prakties moontlik is,” het CP Fourie, woordvoerder van die RDK, gesê.

“Daar is dus geen rede vir enigeen om ongevraagde advies te gee oor hoe die komitee die klagte moet hanteer nie.”

Fourie het gesê sodra die ondersoek afgehandel is, sal die RDK sy bevinding of aanbevelings bekend maak.

“Die media en die breër publiek word nederig gevra om geduld en selfbeheersing aan die dag te lê en die komitee toe te laat om sy wetlike mandaat sonder enige belemmering of oordrewe invloed na te kom,” het hy gesê.

Hlophe is geen vreemdeling vir omstredenheid nie en die RDK is gewoond daaraan om ernstige klagtes oor hom te ontvang. Hlophe is die regter-president wat die meeste kere aangekla is in die land se geskiedenis.

Hy is nog nooit skuldig bevind nie, maar verskeie van die klagtes teen hom sloer al jare lank.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Jan Nel ·

Ja nee mense, moenie so ongeduldig wees nie, gee die RDK kans. Dit is darem baie gevra dat ondersoeke van klagtes van 2008 al moes begin het.

SomeOne ·

geduldig en selfbeheersing, dit is laag van ‘n man in so ‘n posisie wat nie sy belofte na te kom om nie eensydig te wees nie
waar in sa se hoe koppe is eensydigheid nie te sien nie , nepotisme is die groottste euwel in die land en die onbevoegdheid van “die” mense

Louis ·

Dit blyk nou dat die “prinse” waarop mense nie moet vertrou nie, ook in ‘n regsberoep tersprake mag wees. Laasgenoemde word ook deel van die (fabel) spreekwoordelike “grashalm” waaraan ons vashou. Die boek Esegiel is juis ook bedoel vir ‘n tydperk waar die Nuwe Testamentiese Kerk leef en werk. ‘n Verklaring uit genoemde bron stateer “Moet op prinse nie vertrou nie . “Politieke leiers kan mag hê, maar eiebelang en korrupsie maak hulle magteloos.” Deur die Ou Testament weerklink hierdie boodskap. Tot vandag toe het die mens skynbaar nog nie geleer nie. Politici is nie verlossers en brengers van heil nie” (Wil Vosloo, Fika J van Rensburg, et.al., Die Bybel in Praktyk, (Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy) 1993.

Willem ·

Hoe lank moet ons nog wag? Tot na Hlope se aftreedatum, of wat?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.