Reddingsboei aan SAL ‘sal geen verskil maak’

Argieffoto

Die DA het Saterdag gesê die jongste reddingsboei wat die regering na die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) uitgooi, sal niks doen om die lugredery se geldkrisis op te los nie.

Dit kom nadat die nasionale tesourie Saterdag bevestig het dat die nasionale inkomstefonds R2,2 miljard aan SAL sal voorsien om sy skuld aan Standard Chartered Bank te vereffen.

Alf Lees, die DA se skaduminister van finansies, het gesê die reddingsboei van die regering doen afbreuk aan die geloofwaardigheid van die SAL-raad en die nasionale tesourie. “Net drie dae gelede het ek die nasionale tesourie gevra of hulle gereed is om die waarborgverpligtinge na te kom en SAL sowel as die nasionale tesourie het die parlement se staande komitee oor finansies verseker dat alles gereed was om die R9 miljard leningsbetalings van SAL teen 30 Junie te dek. Dit was duidelik nie die geval nie,” het Lees gesê.

Lees het ook gesê hy vind dit ironies dat die reddingsboei aangekondig is te midde van die ANC se nasionale beleidskonferensie waar daar sterk op ekonomiese beleid, en die stabilisering van staatsinstansies soos SAL, gefokus word. “Standard Chartered Bank het duidelik geen vertroue in die leierskap, bestuur of strategie van SAL nie,” het hy gesê.

Die nasionale tesourie het Saterdag gesê Malusi Gigaba, minister van finansies, het die oorplasing van fondse van die nasionale inkomstefonds na SAL goedgekeur om te verhoed dat SAL agterstallig raak met sy skuldbetalings. Die tesourie het gesê die betaling is gedoen ingevolge art. 16 van die Wet op die Bestuur van Openbare Finansies “wat die minister magtig om onbeplande uitgawes van ’n buitengewone aard te maak wat nie uitgestel kan word sonder ernstige benadeling van die openbare belang nie”.

Die tesourie het gesê gegewe die probleme by SAL was die gebruik van art. 16 van die Wet op die Bestuur van Openbare Finansies ʼn “laaste uitweg”. “Die regering sal alles in sy vermoë doen om te verseker dat die lugredery se omdraaistrategie geïmplementeer word. Die lugredery is steeds ʼn strategiese bate en dien as ʼn ekonomiese verskaffer met direkte en indirekte voordeel vir ʼn wye reeks ekonomiese aktiwiteite.”

Lees het gesê die reddingsboei aan SAL dui op die ernstige krisis waarin wanbestuur die nasionale lugredery gedompel het. “Hierdie belastingbetaler-reddingsboei maak geen verskil aan die krisis by SAL nie. SAL verloor om en by R370 miljoen elke maand en krap glo rond vir kontant om salarisse te betaal,” het hy gesê.

“Ons sien uit na die minister se verslag aan die parlement binne 14 dae. Die verslag moet besonderhede gee waarom hierdie uitgawe goedgekeur is as ʼn noodsituasie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

23 Kommentare

jongste oudste gewildste
Stephen Namibia

Die “laaste uitweg” seg die Tesourie? Daar is net een uitweg. Privatiseer SAL en gee die Lugdiens vir mense wat weet van lugvaart.
Maar nouja dan is dit weer witmense wat SAL moet bestuur en ons sal nooit die einde daarvan hoor nie.

Leendert

En hulle vertel dat die Tesourie nie gekaap is nie? Die Tesourie het ook sopas bewys dat hulle wel nie gekaap is nie. Die geskenkies hou nie op nie: vaderkersfees360. Die happies is nie gigabite vir gigabite nie, maar sommer megabite vir megabite.

Chaparel

Hulle doen maar wat hulle wil maar ek vlieg lankal nie meer met SAL nie en is ook nie van plan om in die toekoms SAL te vlieg nie.

Johanna Botha

Daar gaan die belasting geld weer om die siek SAA maar net WEER te help …waneer gaan dit STOP ! Die land word regeer deur dom diewe wat geen kennis het van dit wat hulle doen en leer ook NIKS op die job nie. Ons vlieg uit beginsel nooit meer SAA nie …hoe diens mens n vliegtuig sonder geld en die risiko van n strike die heeltyd wat alle planne ontwrig. Die anc is net n mislukking op alle vlakke … NIKS werk reg nie en hulle soek heeltyd die fout by ander al skreeu die feite dat dit onkunde… Lees meer »

René Prinsloo

Ja ja daar gaan geld betaal word om hulle te red. Netso vinnig wat die geld inbetaal word, word dit weer verkwis en die bose kringloop gaan aan.