Reën gee boere ʼn bietjie skiet

(Argieffoto: Verskaf)

Hoewel hewige reënbuie en oorstromings na verwagting tot Maart in die somerreënvalstreke van Suid-Afrika sal voortduur, sal daar vir die volgende drie weke ligter neerslae wees.

Terwyl reën broodnodig is vir droogtegeteisterde gebiede in die Noord-Kaap, is boere in ander dele van die sentrale binneland verheug oor die bietjie sonskyn, aangesien te veel reën groot skade aan landerye aangerig het.

Volgens Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige, dui weermodelle daarop dat die reën in die eerste twee weke van Februarie ʼn bietjie skiet sal gee. Inwoners in die somerreënvalstreke sal dus heelwat minder reën te wagte kan wees as wat tot dusver in die somerseisoen geval het.

“Die somerreënvalstreke sal minder reën ontvang weens ’n tropiese laagdrukstelsel in die Indiese Oseaan wat tropiese vog rondom Mosambiek en Madagaskar kanaliseer en nie juis Suid-Afrika sal bereik nie,” sê Van den Berg.

Van die tweede helfte van Februarie tot middel Maart kan bogemiddelde reënval egter weer verwag word.

Die huidige La Niña-weerstelsel wat tans in die land voorkom, speel ook ’n rol in die bogemiddelde reënval wat Suid-Afrika sedert die begin van die somer gekry het.

Volgens Van den Berg het die La Niña-weerstelsel reeds in Januarie sy piek bereik. Dit sal egter tot Mei nog ’n effek op die land se weerstelsel hê.

“In die wintermaande is La Niña in sy vloeibare fase en sal van Augustus af óf in ’n neutrale weerstelsel óf ’n El Niño-weerstelsel ontwikkel. Sover lyk vooruitsigte na ’n 50% kans op ʼn neutrale stelsel.”

Weerkundiges verwag dat ’n swak El Niño-weerstelsel dalk die La Niña-stelsel se plek sal inneem.

Nicol Jansen, president van Agri Noord-Kaap, sê die droër toestande is goed, sodat damme ʼn bietjie kan sak en daar weer tot ’n mate ’n bufferkapasiteit kan ontwikkel. So kan die kans op oorstromings ook verminder word.

Hy sê ook boere is dankbaar vir die huidige droër toestande. Die sonskyn het ’n baie positiewe uitwerking op die graangewasse en die gewasse kry kans om hitte-eenhede op te neem.”

Bertus van der Westhuizen, die voorsitter van TLU SA in die Vrystaat, sê die groot hoeveelheid reën die afgelope maand het groot skade aan kleiner graangewasse in die provinsie aangerig omdat die grond deurdrenk is.

“Water kan nie meer dreineer nie. Van die plantjies het weens te veel water gevrek, terwyl ander nie eens opgekom het nie omdat dit gevrot het,” sê Van der Westhuizen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Marius ·

Ons kan dankbaar wees vir die oorvloedige reën. Nie so lank terug nie was ons damme dolleeg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.