Reën, hael sak uit in Oos-Kaap

(Foto: Antoinette Ferreira Zietsman/Facebook)

Droogtegeteisterde dele van die Oos-Kaap het die afgelope naweek broodnodige reën gekry, maar swaar hael het skade aan boere se oeste in dele van die Langkloof veroorsaak.

Volgens die amptelike reënvalsyfers van die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het die Langkloof Sondag binne ’n halfuur sowat 30 mm reën ontvang. Die reën het met swaar hael gepaard gegaan, wat groot skade aan boere se vrugte-oeste veroorsaak het.

Volgens Marius van der Westhuizen, ’n Hortgro-verteenwoordiger in die Langkloof, word daar tans skadebepaling ná die hael gedoen en kan die volle omvang van die skade nog nie bepaal word nie.

“Ons sal dan ook eers weet watter uitdagings die geraakte boere in die gesig staar,” het Van der Westhuizen aan Maroela Media gesê.

Volgens Garth Sampson, ’n weervoorspeller verbonde aan die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) in die Oos-Kaap, sal die water se invloei in die damme eers binne die volgende dag of twee sigbaar wees.

Damme in die Nelson Mandelabaai-metro is steeds gevaarlik laag en Dag Zero dreig sedert verlede jaar in dié distrik.

Die damme wat water aan die metro verskaf, is altesaam skaars halfvol (58,42%). Die Impofudam het teen einde verlede week op 6,8% gestaan en die Kougadam was 11,52% vol. Die Groendaldam het op 14,4% en die Kromrivierdam op 25,7% gestaan.

Sampson sê veel meer reën is nodig om ’n beduidende verskil aan die distrik se damvlakke te maak. Volgens die weervooruitsigte lyk dit egter asof dit ’n droë week vir die Baai gaan wees.

Volgens die weerdiens se amptelike reënvalsyfers het die Nelson Mandelabaai-metro se opvangsgebiede die afgelope naweek tussen 10 mm en 60 mm reënval ontvang. In Port Elizabeth het die gebied rondom die lughawe 10,8 mm aangeteken, Chatty het 23,2 mm aangemeld, Flower Reserve 34 mm en Woodridge 37,2 mm.

In die opvangsgebied in Joubertina is 30,4 mm reën aangemeld, gevolg deur 22,8 mm in Kareedouw en 15,6 mm in Patensie.

In Addo is 65 mm reënval aangeteken, 52,6 mm in George, 43 mm in Plettenbergbaai en 38,8 mm in Oos-Londen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Samuel ·

Ek hoop dit is net die begin van goeie reën vir die Oos-Kaap.

Danie ·

Kan die mense nie die vaaldam water wat see toe loop herlei na die ooskaap.Daardie plek kry net nie genoeg reen nie.Damme altyd leeg.

Truman Burbank ·

Wat alles gaan wegspoel. Besoedeling, stof, huise ens

Di ·

So dankbaar vir die reen, net jammerte van die skade wat sekere boere nou moet deurgaan

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.