Regering moet oop kaarte speel oor Chinese ‘spioenasieskip’

Die Chinese waarnemingskip, Yuan Wang 5. (Foto: Riyas/vesselfinder.com

Daar is groot kommer by gewone Suid-Afrikaners oor wat presies die Yuan Wang 5, ʼn Chinese waarnemingskip, onlangs in plaaslike gebiedswaters gedoen het – en die regering skuld die land ʼn behoorlike en vinnige verduideliking.

“Dit is kommerwekkend dat eers Rusland ongehinderde toegang tot ons hawens kry, en nou ʼn Chinese spioenasieskip. Wat doen hulle in ons gebiedswater? Die onverklaarde teenwoordigheid van hierdie skepe weerspreek die Suid-Afrikaanse regering se bewering van onverbondenheid en bring ons belegging en handel met die Weste in die gedrang,” sê Kobus Marais, die DA se woordvoerder oor verdediging en militêre veterane.

“Dit skep ook vrae oor ons soewereine integriteit.”

Die skip se vermoë om vuurpyle en ruimteloodsings te volg, tesame met gevorderde tegnologie om inligting te versamel, regverdig verdere verduideliking.

“Dit is noodsaaklik dat die regering ʼn omvattende verklaring oor die skip se bedrywighede gee, asook oor die doel van sy teenwoordigheid langs die Suid-Afrikaanse kus.”

Die skip het vroeg in April Durban se hawe aangedoen om brandstof aan te vul. Daar was toe al kommer oor wat die vaartuig aan die suidpunt van Afrika kom doen en het boonop gevolg kort ná gesamentlike militêre oefeninge tussen Suid-Afrika, China en Rusland langs die KwaZulu-Natalse kus.

“Gegewe die geo-politieke omstandighede, moet kommer oor die teenwoordigheid van die Chinese skip ernstig hanteer word. Die regering moet duidelikheid gee die rede waarom die skip Kaapstad en Durban aangedoen het en of daar enige ander motiewe was as om brandstof aan te vul,” sê Marais.

Hy sê Thandi Modise, minister van verdediging, moet oop kaarte speel en Suid-Afrikaners van behoorlike inligting voorsien.

Vorige versoeke vir inligting oor soortgelyke voorvalle met Russiese skepe en vliegtuie is in die verlede met “beperkte deursigtigheid” beantwoord en Marais sê dit is belangrik dat dié patroon hom nie herhaal nie.

“Dit ondermyn openbare vertroue en laat vrae ontstaan oor die integriteit van ons land.”

Marais sê die minister moet verduidelik presies hoe Suid-Afrika by die skip se teenwoordigheid hier baat, veral gegewe die land se eie onvermoë om vloot- en waarnemingsvaartuie in te span om die Yuan Wang 5 behoorlik te monitor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Hendrik ·

Die vraag is watter openbare vertroue en watter integriteit kan daar nog verloor word? ZA is deel van die BRICS organisasie en tans is daar nog 19 lande wat aansoek gedoen het om aan BRICS te behoort nasat Saudie Arabie by BRICS toegelaat is. Dit raak nou BRICS teen die WOKE liberale lande. Keuses wat gemaak word deur die regeerder gaan resultate lewer waarvan die kiesers nie gaan hou nie.

domheks ·

Kom stel ondersoek in oor die hoeveelheid vis wat hulle kan kry in ons waters. EET mos alles.

Marthinus W ·

Dis nou onder die belt. Xi Jinping het hulle na die covid aangevat, dat hulle hul eetpatrone moet verander.

Republikein in die Wes Kaap ·

Dan is die tafel gedek vir Amerika en Brittanje om militêre basisse hier oor te neem en te gebruik as platform vir aanvalle op vyande van die mensdom.

Marthinus W ·

Hoeveel Amerikaanse militere skepe het nie die afgelope paar jaar in Kaapstad geanke rnie? Het die DA daaroor vrae gevra? Ons is deel van Brics. Watter deel van dit kan die DA nie verstaan nie?

Kokerboom ·

Hul sal NOOIT uit die bevrydingstryd modus kom nie! Hul weet nie hoe en wil ook nie!!!

Leon ·

China is die “eienaars “van SA !!!! hulle beskerm maar net hulle bates????

Martie ·

Hulle het mos nou reeds met die onlangse oefening gesien Suid-Afrika kan nie homself beskerm nie… hulle kom soek solank parkeerplek en die res van China se vloot is seker oppad. Wat gaan Suid-Afrika se regering daaromtrent kan doen….? Net mooi niks.

annie ·

As John die president was het hy wapens aan Zelensky geskenk. Nou wil hy die kwessie wat niks met SA uit te waai het nie gebruik om naam te maak en hoop op geldelike steun vir sy groot bohaai. Die DA het ‘n SA-ner nodig as leier. Nie ‘n windmaker nie.

Di ·

Skrikwekkend om te sien hoe ander lande sommer net so die land kan inkom en uitgaan soos hulle wil. Iets is defnitief nie pluis nie en met die korrupste ANC Kaders wat in bewind is, lyk dinge baie verdag. Iemand moet rekenskap gee wat hier aangaan.

CA ·

Jammer DA, as hierdie nou julle bekommernis is sal julle party nooit groei onder die massas in SA nie. Julle leef nog in die verlede.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.