Regter vra hersiening van verpligte minimum vonnis

(Argieffoto)

Wetgewing oor minimum vonnisoplegging in die Suid-Afrikaanse regstelsel kon tot dusver nie tot ʼn daling in misdaad lei nie; inteendeel, die misdaadkoers styg steeds en word gedryf deur hoë vlakke van enersyds ongelykheid en uiterste armoede en andersyds hebsug en korrupsie.

Dít volgens regter Nambitha Dambuza, ʼn regter in die appèlhof, wat vra vir ʼn hersiening van die land se minimum vonnisvoorwaardes.

Dambuza was ʼn gasspreker by ʼn internasionale simposium van die regsfakulteit van die Universiteit Stellenbosch (US). Die lesing het deel gevorm van die regsfakulteit en die US se fakulteit vir ekonomie en bestuurswetenskap, wat saam met die Harvard-universiteit in die VSA werk om vandeesweek die Global Scholars Academy in Suid-Afrika aan te bied.

Dambuza het onder meer verwys na voorvalle van plundering en oproer in Johannesburg en Durban verlede jaar en hoe die konsep van ubuntu (wat verwys na menslikheid, of letterlik vertaal “ek is, want ons is”) toenemend verdwyn. Dambuza sê mense sak toe op ongelukstonele, maar nie om te help nie. Sy het ook verwys na misdadigers wat hoër onderwysinstellings, veral in armer gebiede, teiken.

Sy het ʼn voorbeeld tydens die oproer in Durban gebruik waartydens ʼn jong man ʼn mandjie vol buit in die kattebak van sy blink Mercedez-Benz gelaai het, terwyl ʼn ouer vrou wat ná die plundering deur die rommel gekrap het na kos, dadelik om verskoning gevra het vir haar optrede en weg is sonder om enigiets te neem toe sy daaroor uitgevra is.

“Dít is die hoofdryfvere van misdadigheid: desperate armoede en suiwer hebsug en korrupsie,” het Dambuza tydens die lesing gesê.

Volgens die regter het vlakke van ongelykheid boonop die afgelope 30 jaar vererger en daar word steeds nie aan die doelwitte soos uitgestippel in die Grondwet voldoen nie.

“Baie van ons verarmde gemeenskappe voel toenemend gemarginaliseer, sonder hoop en met ʼn gevoel dat hulle nie behoort nie. Hulle is soos vreemdelinge in hul eie land, oortuig daarvan dat die bestaande instellings nie hul belange en behoeftes dien nie.”

Regter Nambitha Dambuza. (Foto: Spearhead)

Hoewel dit nie ʼn standaardfaktor tydens vonnisoplegging kan wees nie, kan die regbank nie die “hopeloosheid” waarmee die meeste mense vandag saamleef, “wegdink” nie, sê die regter.

Een van die doelwitte van wysigings aan wetgewing was om werk te maak van openbare oproepe oor stygende misdaad en daar is gehoop dat swaarder vonnisse as afskrikmiddel sou dien. Dambuza sê drie dekades later was daar egter geen aanduiding dat dit die gewenste uitwerking gehad het nie.

“Teen Maart 2022 het die gevangenisbevolking op 143 233 gestaan, terwyl bedspasie net vir 108 804 gevangenes voorsiening maak. Dit kan ʼn grootskaalse uitwerking op die gevangenes se veiligheid en sekuriteit hê,” waarsku sy.

Dambuza stel voor dat verskeie faktore rakende wetgewing oor vonnisoplegging in ag geneem moet word. Dit sluit in steun dat gevangenskap vir minder ernstige oortredings vermy word, voorsiening vir aanpasbare vonnisriglyne, restitusie en vergoeding vir slagoffers van sekere misdade en ʼn meer inklusiewe benadering jeens oortreders om ongelykheid, misdaad en onsekerheid in talle gemeenskappe teen te werk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Heinrich ·

Weereens ‘n goeie idee wat reeds doodgebore is; met ” ‘n meer inklusiewe benadering jeens oortreders om ongelykheid, misdaad en onsekerheid” is ek seker is die ANC definisie van ‘inklusiwiteit’, en ons almal weet wie dit insluit, en uitsluit. Met “voel toenemend gemarginaliseer” sal ek ook graag wil weet wie volgens die regter nie tuis voel in hulle eie land nie wanneer hulle aansoek doen vir beurse, universiteitstoelating en werksplek (veral by Dischecm) of in aanmerking moet kom vir rampfondse nie. Klink eerder weer vir my soos ‘n bedekte aanslag om ANC kaders makliker van die hoek af te kry.

Jakes ·

Die regter is in sekere opsigte korrek maar daar is genoeg ander redes hoekom misdaad en korrupsie steeds toeneem. Die enigste oplossing om skedule 6 misdade hok te slaan is om geen genade te verleen en Botswana se voorbeeld te volg wat seker die laagste misdaad syfer in Afrika het, Die oplossing, die doodstraf. Statistiek kannie jok nie en dit ise enigste manier.

Marcello ·

Al wat my pla omtrent die doodstraf, watter ras gaan die maklikste veroordeel word?

Marcello ·

Sy het vergeet om te meld dat die “verarmde gemeenskappe” ook onder ander rasse bestaan.

Riaan ·

En tydens elke verkiesing stem hulle maar net weer vir dieselfde party wat hulle belieg vir hoeveel jaar al.

anko ·

In tronke kry hulle gratis kos, klere en verblyf . Daar is seker nog ander voordele ook. Kom uit en pleeg weer ‘n misdaad en “bobs u uncle” verdere gratis losies

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.