Reisagente optimisties oor aanlyn gesondheidsertifikaat

(Foto verskaf deur Asata)

Die Vereniging van Suider-Afrikaanse Reisagente (Asata) is optimisties oor die jongste aankondiging deur gesondheidsminister dr. Joe Phaahla dat Suid-Afrika ʼn digitale inentingsertifikaat beskikbaar wil stel vir Suid-Afrikaners wat ingeënt is.

Die minister het aangekondig dat persone, wat ingeënt is, in staat sal wees om hul sertifikaat op hul selfone te laai en dit uit te druk indien nodig.

“As mens in ag neem dat ʼn digitale inentingsertifikaat ʼn belangrike kriterium sal wees vir enige reise oorsee, het Asata versoek dat so iets ook in Suid-Afrika beskikbaar gemaak moet word,” sê Otto de Vries, uitvoerende hoof van Asata. “Ons is dankbaar dat Suid-Afrika ʼn digitale inentingsertifikaat sal instel en ons werk saam met die departement van gesondheid om te bepaal tot watter mate dit aan die vereistes van ons primêre markte voldoen.”

De Vries sê dit is uiters noodsaaklik dat die sertifikaat moet voldoen aan internasionale standaarde en dat die regeringsbeleid vir internasionale reisigers, wat Suid-Afrika besoek, ook moet voldoen aan internasionale beste praktyke.

Otto de Vries (Foto verskaf deur Asata)

Asata neem kennis van die wêreldwye skuif om digitale inentingsertifikate te vereis vir reisigers, toegang tot sportbyeenkomste en deelname aan ontspannings- en leefstylaktiwiteite. “Ons sien dat dit reeds oorsee gebeur en kan verwag dat daar in Suid-Afrika ook ondernemings sal wees wat toegang sal beperk vir besoekers en gaste wat hul inentingstatus kan bevestig met ʼn digitale inentingsertifikaat.”

De Vries sê ons het ʼn internasionaal erkende, gestandaardiseerde digitale sertifikaat nodig vir Covid-19-toetse en inentingsertifikate. “Regerings wêreldwyd moet ophou om in isolasie op te tree en eenstemmigheid bereik oor ʼn gestandaardiseerde benadering tot internasionale reiskriteria en vereistes – insluitend digitale gesondheidsertifikate.”

Volgens hom sal dit administrasie vergemaklik en dit kan die begin wees om weer op ʼn veilige, gerieflike, standvastige en doeltreffende manier te reis.

Die Internasionale Lugvervoervereniging het onlangs gewaarsku dat daar moontlik chaos by lughawens kan wees tensy regerings vinnig optree en digitale prosesse moontlik maak om reisigers se gesondheidsgetuigskrifte (Covid-19-toetse en inentingsertifikate) beskikbaar te maak.

Voor Covid-19 het passasiers, gemiddeld, sowat 1,5 uur spandeer vir elke reis (aanmelding, sekuriteit, grenspos-beheer, doeane en die afhaal van bagasie). Huidige data wys dat prosessering tot drie ure toegeneem het tydens spitstye en reisvolumes is slegs op sowat 30% in vergelyking met volumes voor Covid-19.

Die aankondiging van ʼn Suid-Afrikaanse digitale gesondheidsertifikaat kom terwyl die departement van internasionale betrekkinge en samewerking sê hy poog om Suid-Afrika van die Verenigde Koninkryk se rooi lys te verwyder. Minister Naledi Pandor sê haar departement is in gesprek met die Britse regering en planne word gefinaliseer om Suid-Afrika so vinnig as moontlik van dié lys te verwyder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Madelein ·

So julle wil almal forseer om ‘n vaksine te neem om vakansie te neem. Good luck om die industrie weer op sy bene te bring.

Marianna ·

Die wêreld ekonomie sal nooit regkom nie. As gevolg van die feit dat daar baie mense is teen die vaccine gaan minder mense dan oorsese vakansies geniet, minder ander dinge wat vaccine sertifikate vereis bywoon. Dit kan ‘n inkrimping van die ekonomie beteken, meer armoede, minder werksgeleenthede en ‘n groter las op die staat om vir die werkloses te sorg. Maar dit is die GREAT RESET. As almal geforseer word om in te ent, kan die mense in die toekoms ook makliker gemanupileer word deur ander dinge te aanvaar.

MakersMark ·

Wat is die great reset ? Wat beteken dit en watse impak gaan dit hê op die wêreld bevolking ?

Hennie ·

Hoekom nie sertifikate uitreik vir die wat die China-virus reeds onder lede het nie? Word my natuurlike imuun sisteem nou misken? Dis dan die grondbeginsel vir die jab!
Ek het ‘n positiewe COVID 19 uitslag van die pateloë op my foon. Dit behoort méér gewig te dra as ‘n jab.
Dis die tipe ding wat my baie ongemaklik maak as dit by die jab kom.

MakersMark ·

Beste nuus ooit. Sal uitgebrei word na ander industrieë ook.

Anel ·

En net gister, berig MM dat die WGO dink die ent nie die virus tot ‘n einde gaan bring nie. Nou wat nou? Hoekom gespuit word met iets wat nie sy doel gaan bereik nie? Kan maar nog steeds net lag vir die paranoia.

MakersMark ·

Hoop jy sluit die wat snak na suurstof in hospitale uit. Swak en roekelose aanmerking.

Blomme ·

Ek glo dis nie net die pandemie wat SA op rooi lyste laat verskyn nie. Het die regering al gedink aan die beeld wat uitgedra word met al die negatiewe wat hier gebeur? Dis tyd dat hul begin aandag gee aan dit wat regtig saakmaak. Klink dan asof geld inbring belangriker is as die verlies van honderde lewens wat op geweldadige wyse daagliks geneem word. Wat ń skande!

JohanCzu ·

Dis ‘n goeie idee. Dit kan dan ook ander verpligte inentings soos masels en geelkoors insluit.

Porseleintjie ·

Elke individu is seker geregtig op sy/haar mening. Vat die jab met sy voor/nadele as jy wil. Dis jou keuse. Vir duisende van ons is dit ‘n geloofskwessie. Die Bloed van Jesus Christus beskerm my. 100%. Julle met die jab reis waar jy wil. Ons ander wag op n ander reis na n beter plek. Sonder n permit. Respekteer dus ons geloof en besluite.

MakersMark ·

So al die mense oor die hele wêreld wat dodelik siek geword het of gesterf het het geen genade van Jesus Christus ontvang nie?Hoe arrogant klink dit ?

Porseleintjie ·

Nerens het ek van genade melding gemaak nie. Klink eerder vir my of jy twyfel en dat genade jou agterdeur is.

Cherokee ·

Jy besef nie eens hoe arrogant dit is om haar van arrogansie te beskuldig.

Philip ·

Dit verstom my hoe ‘n “plandemie” met ‘n herstel koers van meer as 98% gebruik is om al mens se mense regte weg te vat.

Karina ·

Ek dink ‘n digitale inentings sertifikaat is ‘n goeie ding vir die wat hul inentings gehad het. Maar dit moet gratis wees en nie weer ‘n geldmaak storie nie. Gelukkig is ons almal mense met verskillende opinies, ek het my jab gekry, weet van mense wat dit nie wil kry nie, so dit is elke persoon se keuse en moet nie afgedwing word nie.

Cherokee ·

Dankie Karina, vir ‘n sinvolle beredenering. Soos jy sê, mense het verskillende opinies.

Irma ·

Ja Cherokee, die mense wat op hierdie stadium nie die inenting wil neem nie se onderliggende siektetoestande moet ook in aanmerking geneem word. Dit wil vir my voorkom asof daar mense is wat wil he almal moet die inenting neem ongeag hulle onderliggende siektetoestande waaraan hulle ly.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.