Bronwen d’Oliveira, ʼn woordvoerder van die reservaat waar die renoster gehou word, het gesê dit gaan goed met die ma sowel as die kalf wat Dinsdagoggend gebore is.
Die renosterkoei, genaamd Thandi, is in Maart 2012 gered nadat stropers haar en twee renosterbulle se horings afgekap het en hulle gelos het om dood te bloei. Volgens d’Oliveira het Thandi se herstel nagenoeg drie jaar gevat en moes sy onder meer ʼn veloorplanting kry. Die renosterbulle het nie oorleef nie.
D’Oliveira het gesê die reservaat doen alles in hul vermoë om Thandi en haar kalf te beskerm.