Renosterstropers moet 12 jaar sit

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Rhino Horn Auction/Argieffoto)

Twee renosterstropers is Donderdag in die Zeerust-landdroshof in Noordwes tot 12 jaar direkte tronkstraf gevonnis.

Lt.kol. Amanda Funani, polisiewoordvoerder, het Saterdag in ʼn verklaring gesê dat Alfredo Sitoe (43) en Thomas Mlambo (46) elk ʼn vonnis van 44 jaar vir renosterstropery, die onwettige besit van vier renosterhorings, betreding en die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen ontvang het. Dié vonnisse sal egter gelyklopend uitgedien word.

Sitoe en Mlambo is op 20 Oktober verlede jaar saam met drie ander verdagtes in Nietverdiend buite Zeerust in hegtenis geneem. Hulle was in ʼn minibus-taxi toe die polisie hulle aangekeer het.

Die renosterhorings in hul besit was in foelie toegedraai en in swart plastieksakke versteek. Die polisie het ook ʼn byl, mes, ammunisie en ʼn knaldemper in hul besit gevind.

Een van die vyf verdagtes het ontsnap voordat die polisie hom in aanhouding kon plaas, terwyl nog ʼn verdagte, Thomas Chauke, kort voor die hofverskyning in November verlede ontsnap het.

Hulle word steeds deur die polisie gesoek.

Die ander persoon wat saam met Sitoe en Mlambo op die aanklagte tereggestaan het, is intussen vrygespreek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.