Renosterstropers vir jare tronk toe

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Die provinsiale polisiekommissaris in Mpumalanga, lt.genl. Semakaleng Daphney Manamela, het die vonnisoplegging van twee renosterstropers Dinsdag in die Skukuza-streekhof verwelkom en die betrokke vervolgingspan vir sy werk aan dié saak geloof.

Flaveo Cuetsele (21) en Nelson Mhlongo (34), onwettige immigrante van Mosambiek, is 19 jaar tronkstraf opgelê nadat hulle onder meer skuldig bevind is aan renosterstropery, die onwettige besit van renosterhorings, vuurwapens en ammunisie asook die onwettige betreding van ’n nasionale park. Hulle is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.

Volgens brig. Selvy Mohlala, polisiewoordvoerder, het die twee beskuldigdes saam met ’n derde makker die park op 5 Maart deur die Tshokwane‑ en Laer-Sabie-gedeeltes van die wildtuin betree. Veldwagters het geweerskote gehoor en ondersoek gaan instel.

“Die veldwagters het die drie verdagtes in ’n hoek vasgedruk. Hulle is in besit van onwettige vuurwapens en ammunisie gevind. Hulle het ook sakke en klere by hulle gehad,” het Mohlala gesê.

Die polisie in Skukuza is ingelig oor die verdagtes wat gevang is en met hul aankoms is die verdagtes in hegtenis geneem en dienooreenkomstig aangekla.

Die ondersoek het aan die lig gebring dat Cuetsele en Mhlongo Mosambiekse burgers was wat onwettig na Suid-Afrika gekom het en daarom is ’n klag van oortreding van die Immigrasiewet bygevoeg.

“Die drie verdagtes het voor die hof verskyn waar borgtog aan een van die verdagtes, Antony Tembe, toegestaan is, maar dit was die laaste keer dat hy gesien is en hy het nooit weer sy voet in die hof gesit nie. ’n Lasbrief vir sy inhegtenisneming is uitgereik. Hy word steeds deur die polisie gesoek.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Di ·

Dan wil ANC Kaders ons nog steeds oortuig dat onwettige immigrante nie die oorsaak is dat SA in ‘n massiewe Kriminele nes verval het nie. HIERDIE immigrante is verantwoordelik vir die MEESTE kriminele aktiwiteite in ons land. Die Regering moet WAKKER SKRIK en ROOIKAPPIE moet vasgevat word, hy spoor onwettige immigrante aan om hier te kom plak soos hyself.

Nico ·

Julle is meer bekommerd oor die renoster stropery as oor die plaas moorde en al die ander moorde.

Blikkies ·

# Nico, ek kan jou verseker niemand is meer bekommerd oor die renosters as plaas moorde nie. Ons is almal baie bekommerd oor baie fronte, die renosters is ook een van hulle.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.