Resensent Barry Ronge oorlede

Barry Ronge (Foto: Barry Ronge – RIP/Facebook)

Die voormalige kunsredakteur van die Sunday Times, Barry Ronge, is op 3 Julie 2022 in die ouderdom van 74 oorlede. Sy afsterwe word, op sy versoek, eers ʼn week later aangekondig.

Ronge was een van Suid-Afrika se mees geliefde filmresensente, rubriekskrywers en kunsverslaggewers.

Ronge het hom in 2014 van openbare lewe onttrek en het die afgelope paar jaar in afsondering geleef waar sy tuin in Johannesburg vir hom ʼn toevlugsoord was.

Hy was ʼn gerespekteerde en bekende mediapersoonlikheid, joernalis, uitsaaier en bobaas verteller. Sy rubriek, “Spit ʼn Polish”, is destyds in die Sunday Times-tydskrif gepubliseer. Hy het in sy finale rubriek op 23 Februarie 2014 geskryf: “Vir die afgelope 27 jaar het ek ge’spit ʼn polish’. Ek is nie moeg daarvan of verveeld daarmee nie. Dit was ʼn goeie genoot en het my die geleentheid gegee om Suid-Afrikaners waar te neem – in die stede en die voorstede, waar hulle die ware Reënboognasie-gees uitstraal.”

Die Sunday Times het in 2015 sy prys vir Suid-Afrikaans letterkunde hernoem na die “Barry Ronge Fiction Prize”. Dié prys, saam met die niefiksie prys, word nie meer na ʼn persoon vernoem nie.

Hy was ook bekend vir sy fliekresensies in die Sunday Times en sy program Sondagoggende op Radio 702 van 1989 tot 2014 waar hy insig gebied het oor alle aspekte van Suid-Afrikaanse kultuur.

Ronge is in Hillbrow, Johannesburg gebore en het aan die Wes-Rand grootgeword waar hy aan Florida Park High School gematrikuleer het. Hy het sy studies aan die Universiteit van die Witwatersrand voltooi waar hy fliekresensies vir die studentekoerant geskryf het.

Sy onderwysloopbaan het by St John’s College in Johannesburg begin waar hy Engels en Afrikaans as vakke aangebied het; gevolg deur ʼn 10 jaar lange loopbaan as ʼn dosent in letterkunde aan die Universiteit van die Witwatersrand.

As ʼn joernalis, wat in die kunste gespesialiseer het, het hy meer as 30 jaar kommentaar gelewer oor kontemporêre letterkunde, die teater, dans, kultuur en flieks. ʼn Goeie resensie van Barry Ronge het talle kunstenaars se loopbaan ʼn wegspringplek gebied.

In die laat 1980’s was hy ook ʼn kosresensent vir die voormalige Sunday Times Metro-bylaag. Hy het “Barry’s Bites” geskryf en was Sandton Living-tydskrif se mees gevreesde kosresensent onder die skuilnaam Rebecca Parker.

Tussen 1994 en 1995 het hy ʼn weeklikse rubriek in die Star Tonight!-kunsbylaag gehad, genaamd “Ronge’s Writes”. Hy was die eerste manlike joernalis op die vroueblad van The Star-koerant van 1980 – 1982. Hy het verslag gedoen oor sosiale geleenthede, gesondheid en welstand en die kunste. Hy was ook redakteur van Star Tonight!.

Hy het verskeie toekennings ingepalm, waaronder ʼn British Tourism-sertifikaat vir sy bydrae tot die Engelse Taal en Kultuur in 2003. In 2014 het hy ʼn Spesiale Lewenslange Bydrae-toekenning ontvang deur die Sunday Times.

Hy laat sy lewensmaat, Albertus van Dyk, agter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Marthinus W ·

Barry het in die 1980’s in Kenilworth, in die suide van Jhb gewoon [aangrensend tot Rosettenville]. Ek en hy het vir n hele paar jaar elke oggend dieselfde bus geneem; ek heelagter, hy voor, waar meer spasie was, met sy rottangmandjie vol tydskrifte en boeke. Hy was altyd vriendelik en beskaafd, en het homself nooit opgedring nie. Ek was altyd te skaam om met hom te praat. Ons het mekaar net met n kopknik gegroet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.