Rise Mzansi stel volksverklaring saam

Songezo Zibi, leier van Rise Mzansi (Foto: Songezo Zibi/Facebook)

Sowat 800 afgevaardigdes het die afgelope naweek Rise Mzansi se kongres in Braamfontein, Johannesburg, bygewoon waar ʼn sogenaamde volksverklaring saamgestel is.

Songezo Zibi, leier van Rise Mzansi, het in sy toespraak gesê Suid-Afrika is nou verdeeld tussen diegene wat wil baklei vir dit waarin hulle glo, en diegene wat daarvoor wil wag. “Ons is op soek na die dapperes. Ons soek die krygers. Die geveg het begin en ons sal nie ophou totdat ons gekry het wat ons verdien nie. Dit sal nie eindig totdat diegene wat voor ons gekom het, ophou om in hul graf te draai nie, want die toekoms lyk blink.”

Volgens Zibi is die verklaring wat saamgestel is, ʼn belofte, ʼn onderneming, ʼn toewyding.

“Ons, die mense van Suid-Afrika, georganiseer onder Rise Mzansi, verklaar dat ons sosiale demokrate is met ʼn missie om die Suid-Afrika wat ons verdien, in een generasie te bou,” lui die verklaring. “Ons staan vir grondwetlike demokrasie, waar die Grondwet die oppergesag is, en die mense regeer.

“Ons word gelei deur ons waardes van vryheid, gelykheid, geregtigheid, solidariteit en integriteit. Ons is verbind tot ons visie om Suid-Afrika te herstel en ʼn veilige, voorspoedige, gelyke en verenigde samelewing te bou waar elkeen ʼn gelukkige en waardige lewe kan geniet.

“Ons erken dat Suid-Afrika ʼn pynlike verlede het van geweld, onteiening en apartheid waarvan die ongeregtighede nog opgelos moet word.

“Die groot hoop, drome en toewyding van die 1994-demokrasie is verloën deur daaropvolgende regerings.

“Die mense van Suid-Afrika is talentvol, visionêr en hardwerkend. Ons verdien ʼn land wat gelei word deur die beste beskikbare leiers wat daartoe verbind is om hierdie mooi land te bou.”

Die volksverklaring verbind hom daartoe dat ʼn Rise Mzansi-regering armoede sal uitroei, rassisme en ongelykheid sal beëindig en indiensneming vir mense sal verseker.

“Ons sal die mees bekwame en etiese leiers kies wat Suid-Afrikaners in al ons demokratiese instansies kan verteenwoordig. Die geweld en trauma het dringende optrede nodig indien Suid-Afrika suksesvol wil wees. Ons verbind ons daartoe dat ons demokratiese regering aktiewe betrokkenheid sal insluit van maatskaplike bewegings en die burgerlike samelewing.”

Die verklaring is ook gefokus op ses gebiede wat gemeenskappe en gesinne raak: individuele en gesinswelstand; gemeenskap; nasiebou; regering; ekonomie; die klimaatkrisis en die omgewing.

“Hierdie verklaring verteenwoordig ʼn nuwe missie vir hierdie en toekomstige generasies. Ons durf nie en sal nie misluk nie. Verklarings is betekenisloos sonder aksie. Dit is betekenisloos sonder toewyding. Dit kan niks voortbring as slegs ʼn paar mense daarvan weet of dit deel nie. Hierdie verklaring moet bekend wees aan elkeen wat ons ken. Ons moet dit op ons moue dra, in ons harte, in ons gedagtes, in ons optrede, in tye van swaarkry, in tye van vreugde, in tye van hartseer en in tye van hoop.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

annie ·

… armoede sal uitgeroei saam saam met die witmense wat ons opgehelp het uit die strooi. Dus wil ons armoede terugnooi tot weer binne-in die strooi. Die volksverklaring sal die dwase twak mooi uiteensit in duisend woorde.

Heinrich ·

Sjoe, hierdie ouens belowe om dinge reg te kry wat miljoene ander wêreldwyd nie kon regkry nie…dis maar ook net bewys van politieke grootpratery.
En met “Ons erken dat Suid-Afrika ʼn pynlike verlede het van geweld, onteiening en apartheid waarvan die ongeregtighede nog opgelos moet word.” word eintlik maar ook dieselfde retoriek as die ANC, EFF en Robert Mugabe gevolg; dit maak al die “gelyke en verenigde samelewing te bou” praatjies ongedaan.

JohanR ·

Ek gaan nou rerig my stem vir kulle gooi. Wat in die groote van sake in SA sal julle kan doen as julle self 20000 stemme kry? Maar is moes lekker want alle politieke partye kry groot geld.

Petrie ·

Om n “Volksverklaring” uit reik moet die HELE volk darem seker daaroor saamstem?
Hierdie is maar net weer n splintergroepie wat op hulle eie mishoop wil koningkraai. Hoekom staan hulle nie saam met die ander partye om n eenheid te vorm nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.