Rower doodgeskiet, makker gewond tydens winkelroof

(Foto: SAPD)

ʼn Groep rowers het hul moses teëgekom toe hulle op ʼn winkel in Robertson in die Wes-Kaap toegeslaan het.

Kapt. FC van Wyk, polisiewoordvoerder, het gesê polisiebeamptes het Maandag op ʼn sakeroof in Reitzstraat reageer.

ʼn Groep rowers het op ʼn winkel toegeslaan en die eienaar van die winkel geskiet en gewond. ʼn Veiligheidswag het reageer nadat hy die skote gehoor het. Toe hy die winkel nader, het die verdagtes op hom losgebrand en hy het teruggeskiet. Een verdagte is noodlottig gewond en ’n ander beseer.

“Met die polisie se aankoms op die toneel, is die liggaam van ʼn onbekende man met ʼn skietwond aangetref. Hy is op die toneel dood verklaar. Nog ʼn verdagte met ʼn skietwond is ook op die toneel aangetref. Daar is op twee vuurwapens en ammunisie beslag gelê.”

Nog twee verdagtes het intussen in ʼn wegkommotor van die toneel gevlug. Die twee verdagtes is egter kort daarna in hegtenis geneem. Hulle sal binnekort saam met hul gewonde makker in die Robertson-landdroshof verskyn op aanklagte van sakeroof, poging tot moord en die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Richard ·

Wonderlike nuus. Ek hoop net nie die arme veiligheidswag is nou in die moeilikheid nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.