Rowers loop hul vas teen polisie

Die misdaadtoneel in Tulisa Park. (Foto: ER24)

Die polisie in Gauteng kon Vrydag daarin slaag om vier vermeende rowers voor te keer kort nadat ʼn klerewinkel in Roodepoort beroof is. ʼn Vyfde verdagte is tydens ʼn jaagtog doodgeskiet. Nog elf verdagtes is boonop vroeër Vrydag in hegtenis geneem nog voordat hulle ʼn maatskappy in Johannesburg kon beroof.

“Polisielede van Roodepoort, die honde-eenheid in Johannesburg en die eenheid vir ernstige en geweldsmisdade het Vrydag gereageer op ʼn sakeroof wat pas in Roodepoort plaasgevind het. Die polisie het die verdagtes se motor gewaar en ʼn jaagtog het gevolg,” het kol. Noxolo Kweza, polisiewoordvoerder in Gauteng, gesê.

“ʼn Skietery het tussen die polisie en die verdagtes uitgebreek en een van die verdagtes is in die proses gewond. Hy is op die toneel dood terwyl die vier ander verdagtes in hegtenis geneem is.”

Die polisie het gesteelde slimfone, drie ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie teruggekry.

Volgens Kweza is beslag gelê op die verdagtes se voertuig wat met vervalste nommerplate toegerus is. “Die polisie het ook ontdek dat een van die vuurwapens vroeër van ʼn polisielid in Piet Retief in Mpumalanga gesteel is.”

Die verdagtes word nou aangekla van sakeroof, die besit van gesteelde goedere en die besit van ongelisensieerde wapens.

Op dieselfde dag is elf verdagtes in hegtenis geneem en twee noodlottig gewond nadat hulle glo probeer het om ʼn maatskappy in Tulisa Park te beroof wat sonpanele vervaardig. Volgens ER24 is ʼn 40-jarige sekerheidswag ernstig beseer tydens die skietery. Hy is op die toneel gestabiliseer en na ʼn hospitaal geneem.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.