SA al weke lank aappok-vry

’n Partikel van die aappokkevirus tydens ’n uitbreking onder prêriehonde in 2003. (Foto: AFP)

Nie ’n enkele bevestigde geval van aappokke is die afgelope vyf weke in Suid-Afrika aangemeld nie. Die aantal bevestigde gevalle wêreldwyd toon ook ’n afname.

Volgens die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) is daar maar vyf bevestigde gevalle van aappokke die afgelope drie maande in Suid-Afrika aangemeld. Die gevalle is onderskeidelik in Limpopo (1), Gauteng (2) en die Wes-Kaap (2) aangemeld.

Die laaste bevestigde geval was op 17 Augustus en nog geen verdere geval is sedertdien bevestig nie.

Suid-Afrika het ook nog geen sterfte weens aappokke aangemeld nie.

Nios sê in sy jongste verslag altesame 382 laboratoriumtoetse van vermoedelike gevalle binne Suid-Afrika (268) en ander Afrikalande (114) is die afgelope vier maande (vanaf 25 Mei en 21 September) gedoen. Dit sluit nie toetse by private laboratoriums in nie.

Nios sê hoewel die risiko van aappokke vir die algemene Suid-Afrikaanse publiek as laag beskou word, behoort gesondheidswerkers steeds waaksaam te wees en ondersoek in te stel, sou ’n pasiënt ’n onverklaarde akute uitslag of velletsels ondervind.

Ander moontlike simptome van aappokke sluit in hoofpyn, koors (>38.5 °C), limfadenopatie (geswelde limfknope), mialgie (spierpyn/lyfpyn) en rugpyn.

Altesame 61 753 bevestigde gevalle van aappokke is reeds teen Maandag in 105 lande aangemeld, terwyl die dodetal tans op 23 staan.

Nios sê sommige lande ondervind steeds ’n toename in gevalle van aappokke, terwyl ander onlangs maar hul eerste geval aangemeld het.

Die aantal weeklikse nuwe gevalle wêreldwyd het egter die afgelope week (12 September tot 18 September, 3 794 gevalle) met 22% afgeneem vergeleke met die vorige week (5 September tot 11 September, 4 863 gevalle).

Nege van die 23 sterftes is buite Sentraal- en Wes-Afrika aangemeld. Dit sluit in Spanje (2), Brasilië (2), Ecuador (1), Kuba (1), België (1), Soedan (1) en Indië (1).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Witbaard ·

Die aap is uit die mou…..dit was weer ‘n bangmaak storie.

Papsak ·

Dankie tog daar iets goeds verdwyn in SA wil dit nie maar so goed verdwyn van alles nie die pokke is verdwyn maar nie die ander nie

Johan ·

Ek kan maar net dink hoe gefrustreerd die medici is daaroor. Dié soustrein mis hulle in SA.

annie ·

Dalk bly die plaaslike siekes net tuis en steek die simptome weg uit vrees vir bekendmaking en die nagevolge.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.