SA diamantknewel gou te koop

Die massiewe wit diamant bekend as The Rock, in Dubai. Dit sal binnekort deur Christie’s opgefeil word. (Foto: Karim Sahib/ AFP)

ʼn Massiewe wit diamant, wat die bynaam The Rock gekry het, is vir die eerste keer in Dubai te sien, in aanloop tot ʼn veiling in Mei. Hier sal die diamant na verwagting vir $30 miljoen (R436 miljoen) verkoop word.

Die diamant van 228,31 karaat is meer as 20 jaar gelede in Suid-Afrika gemyn en skoongemaak en is die grootste diamant van sy kleur en vorm wat nog ooit opgeveil is. Volgens die afslaer Christie’s sal die diamant vir die eerste keer vanaf Saterdag in Dubai te sien wees, waarna dit op 30 Maart na Taipei en dan na New York en Genève geneem sal word. Die diamant sal na verwagting op 11 Maart opgeveil word.

‘n Vrou kyk na die wit diamant bekend as The Rock, in die afslaer Christie’s se winkel in Dubai. (Foto: Karim Sahib/ AFP)

Die vorige rekord vir die grootste kleurlose diamant was een van 161,41 karaat wat in November 2017 verkoop is vir $33,7 miljoen (R480 miljoen), het Christie’s aan AFP gesê.

Sotheby’s in Londen het vroeër vanjaar die Enigma, ʼn seldsame swart diamant, vir $4,3 miljoen (R62 miljoen) opgeveil. Teen 555 karaat was dit die grootste geslypte diamant wat nog ooit onder die hamer gekom het. Die diamant is vermoedelik geskep toe ʼn meteoriet of ʼn asteroïed die aarde getref het, aldus Sophie Stevens, juweliersware-spesialis by die afslaersgroep Sotheby’s.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.