SA duiker laat eie wêreldrekord spat

(Foto: Karen van den Oever/ Facebook)

Karen van den Oever (39), ʼn professionele duiker van Sandton, het Donderdag haar vorige Guinness-wêreldrekord in grotduik vir vroue met meer as 10 m verbeter, deur 246,65 m in die dieptes van die Boesmansgatgrot af te daal.

Die hele oefening het agt uur en 11 minute geduur. “Ek het Donderdag oudergewoonte ʼn bietjie op my senuwees gevoel voordat ek in die grot afgeduik het, maar dit is regtig ʼn rustige en kalmerende ervaring vir my so diep onder die water,” het Van den Oever ná afloop van haar duiktog gesê.

Die legendariese diepduikplek, Boesmansgatgrot, is dieselfde diepduikplek waar Nuno Gomes die wêreldrekord vir mans opgestel het toe hy in 1996 tot heel onder – ʼn yslike 283 m – afgesak het.

Verna van Schaik het tot 2021 die wêreldrekord vir vroue gehou. Sy het in 2004 tot 221 m diep afgesak.

“Dit het my byna 15 jaar gevat om Van Schaik se rekord met meer as 15 m te verbeter; ek het hard gewerk om my eie rekord net ʼn jaar later weer te laat spat.”

Van den Oever het in 2001 haar skuba-skoene vir die eerste keer aangetrek en haar liefde vir duik het bly verdiep. “My ouers het my vir ʼn skubaduik-kursus ingeskryf toe ek 19 jaar oud word, ek het nog altyd baie van die water gehou, so toe ek vir die eerste keer skubaduik, het ek geweet dit is iets wat ek nog lank gaan doen,” sê Van den Oever in ʼn onderhoud met Maroela Media.

Sy het later as student by die Wits Onderwaterklub aangesluit waar haar passie vir tegniese duik behoorlik koers gekry het. “Ek het die geleentheid gehad om met Van Schaik en Gomes, wat ook deel was van die klub, oor hul wêreldrekords te gesels. Dit was so inspirerend en motiverend, ek het dadelik geweet dat dit die pad is wat ek wil stap.”

Volgens Van den Oever kan tegniese duik die duiker blootstel aan gevare buiten dié wat normaalweg met ontspanningsduik verbind word, en daar is ʼn groter risiko om ʼn ernstige besering op te doen of selfs te sterf. Dit het haar egter steeds nie die skrik op die lyf gejaag nie.

(Foto: Karen van de Oever/ Facebook)

Vir Van den Oever is wêreldrekords egter nou nie meer die top-prioriteit nie. Sy vertel dat sy ʼn groot liefde en passie vir grotverkenning het en dat hulle binnekort grotte in lande soos Namibië gaan verken.

“Daar is baie grotte in Afrika wat nog nooit deur duikers ontdek is nie, ons wil in die volgende jare al hierdie grotte gaan verken,” sê sy opgewonde.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Niklaas ·

Al scuba duik ek al jare, is hierdie grotduik gedagte iets wat ek eerder vermy. Neewat. Dis ook nie so genotvol soos Ponta of Sodwana se mariene lewe duike nie

Lurock ·

Laat dit my terug verlang na my scuba dae. Het baie by Wondergat geduik. Diepste wat ek was is 55m, dis ‘n vulletjie teen haar diepte. Gaan voort Karin en verken daai diepte, maar jy moet versigtig wees. Lekker duik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.