SA Express moet antwoord oor geldprobleme

SA Express (Argieffoto) (Foto: Bob Adams vanaf George, Suid-Afrika – SA Express DHC-8-315 ZS-NMA via Wikimedia Commons)

Victor Xaba, uitvoerende hoof van South African Express, moes Woensdag toegee dat die sukkelende lugredery nie streng genoeg teen onreëlmatige besteding opgetree het nie, nadat Lynne Brown, minister van openbare ondernemings, weer gesê het die lugredery het ʼn reddingsboei van die staat nodig.

“Ons kan in alle regverdigheid sê nie genoeg is gedoen in terme van goeie bestuur nie. Ek wil dit net toegee,” het Xaba aan die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Scopa) gesê.

Hy moes vrae beantwoord oor die ouditeur-generaal se bevindinge dat die laekoste-lugredery in 2015/16 R35 miljoen se onreëlmatige en verkwistende uitgawes aangegaan het en het verduidelik dat die maatskappy besluit het om ʼn “oorkoepelende” ondersoek te doen eerder as om individuele gevalle te ondersoek. LP’s het aan Xaba gevra hoekom daar tot dusver slegs een werknemer afgedank is en slegs teen twee dissiplinêre stappe gedoen is terwyl daar 216 lyn-items van onreëlmatige besteding aangemeld is.

Die DA se Tim Breuteseth het prontuit aan Xaba gesê hy kan verwag dat die publiek baie ongelukkig gaan wees dat miljoene rande wanbestee is wanneer daar klaarblyklik geen haas is om diegene wat daarvoor verantwoordelik is aanspreeklik te hou en die geld terug te kry nie. “Wanneer bedank jy? Want jy is nie goed hiermee nie,” het Breuteseth gesê.

Brown het vlugtig voor die komitee verskyn voordat sy na ʼn kabinetsvergadering toe is en het gesê net soos SAL het SA Express herkapitalisering nodig. Sy het ʼn beroep op die nasionale tesourie gedoen “om ons te help in hierdie verband”.

Ongeouditeerde finansiële resultate van 2016/17 toon dat die lugredery R234 miljoen verloor het nadat dit die vorige jaar ʼn minimale wins van R16 miljoen gemaak het. Mark Shelley, die finansiële hoof, het aan Scopa gesê die lugredery se probleme om sy krediteure te betaal het voortgeduur ten spyte van regeringswaarborge van R467 miljoen.

“Daar is een oorsaak en dit is likiditeit,” het hy gesê. “Ons sal betaal as en wanneer geld beskikbaar is. Ons het steeds likiditeitsprobleme en ons het steeds probleme met laat betalings.”

Op ʼn vraag hoekom die lugredery nie die probleem oplos nie, het hy gesê dit is uitgestel spesifiek om die lugredery in staat te stel om “rekeninge wat al lank uitstaande is” en die krediteure wat direk verband hou met vliegtuie wat in gebruik is, te betaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Chris Ws ·

Maak AL die sukkelende rederye TOE en verkoop hulle.Ons land hulle NIE nodig nie.

Begin by die begin ·

Begin by die begin, weg met onnodige personeel…… gewone beheerde salarisse, top bestuur wat nie eers hul werk doen, verdien hopeloos te veel. Bepaal roetes wat nodig is en bly by dit tot jul sterk genoeg is om weer die hele mark aan te vat. Weg met freebies aan sekere instellings en die staat, slmal wat wil vlieg moet self betaal. Net dit en jul sal weer die sterk lugredery van weleer word.

Landie ·

Waarop spandeer jy geld as jy nie ‘n lugredery in stand kan hou nie? Net soos die SAL, hulle besigste roetes is tussen Jhb en Kaapstad maar nou wil hulle die vlugte verminder. Hoekom, wat maak julle met die geld wat julle met daardie vlugte maak. Dit is mos ‘n winsgewende roete, hoekom sal jy dit wil doen? Miskien moet die hele klomp in die pad gesteek word wat in beheer van hierdie lugrederye is, want mens kan duidelik sien hulle weet nie hoe om sulke besighede te beheer nie.

Eish ·

Die Engels het n beskrywing van die bestuur en die gevolglike toedrag van sake, ” Useless” Die Afrikaanse term sal verseker gesensor word.

marous ·

Me Brown is sekerlik bevoeg om blitsvinnig uit te vind waar die geld heen is en sonder versuim baie streng op te tree …. en toe word almal se koffie koud

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.