SA leerders se leesvermoë swakste uit 50 lande

leesprobleme

Foto: Edubloxsa.co.za

Die regerende party het Donderdag sy stem gevoeg by die stroom van kenners en kommentators in plaaslike onderwyskringe wat reken die resultate van ʼn wêreldwye geletterdheidstudie is ʼn wekroep wat die noodsaaklikheid beklemtoon om die manier waarop leerders in die klaskamer onderrig word, te herevalueer.

Volgens die navorsing genaamd Progress in International Reading Literacy Study (Pirls) lees 78% van gr. 4-leerders in Suid-Afrika nie met begrip nie. Dié leerders kon nie spesifieke inligting opspoor of weergee in leesstukke nie en het ook gesukkel om duidelike afleidings oor gebeure te maak of redes vir aksies te verskaf. Suid-Afrika het die swakste gevaar van die 50 lande wat aan Pirls deelgeneem het.

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het die navorsing Dinsdag in Pretoria bekendgemaak. Daar is 12 810 leerders van 293 skole landwyd getoets. Leerders is getoets in die taal waarin hulle gedurende gr. 1 tot 3 onderrig is en al 11 amptelike landstale is gebruik om die resultate te verkry.

Motshekga het gesê die leesvaardighede van Suid-Afrikaanse gr. 4-leerders is swakker as wat sy verwag het, maar bygevoeg dit was belangrik om die leerders teen die beste in Afrika en die wêreld te meet om te sien of daar tasbare vordering gemaak word.

“Hierdie verslag bied ons die geleentheid om dieper te kyk en vas te stel hoekom Suid-Afrika so sukkel. Ons kan ook sien wat ons anders kan doen in vergelyking met ander lande, wat ons sal help om betekenisvolle intervensies oor die onderwysstelsel te vestig.

“Nou, meer as ooit, moet ons oor die holistiese ontwikkeling van kinders dink en verseker dat die beperkte hulpbronne wat ons het, doeltreffend toegewys en bestee word in die belang van toekomstige leerders. Pirls-2016 is in dié opsig ʼn ongelooflike inligtingsbron aan die onderwyssektor,” het Elijah Mhlanga, woordvoerder vir die basiese onderwysdepartement, gesê.

Angie Motshekga minister van basiese onderwys. Foto: DOC

Kenners nie beïndruk nie

Volgens dr. Nic Spaull, ʼn senior navorser verbonde aan die departement Ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch, is die geletterdheidskrisis aanvanklik onderskat. “Suid-Afrikaanse leerders is vroeër met ʼn makliker weergawe van Pirls gemeet en die pre-Pirls het getoon net 58% van kinders lees sonder begrip, maar die nuwe maatstaf toon die syfer is eintlik veel hoër.

“Ek is ook besorg daaroor dat seuns se leesvermoë oor die afgelope paar jaar deurlopend verlaag het. Hoewel ons nie seker is waaraan die afname toegeskryf kan word nie, blyk dit dat daar bewyse is dat meisies se leesbegrip oor die afgelope vyf jaar dieselfde gebly het, maar seuns vaar nou swakker.

“Die gemiddelde gr. 4-meisie in Suid-Afrika is ʼn volle jaar se leer voor ons seuns. Slegs Saoedi-Arabië het ʼn groter gaping waar meisies veel beter as seuns lees.”

Nog ʼn kommerwekkende bevinding van die navorsing is dat die aantal studente wat uitstekend kan lees, afgeneem het. “Daar is slegs ʼn baie klein aantal leerder wat die hoogste internasionale Pirls-maatstaf kon behaal en dit bly daal. In 2011 was daar 3% van Suid-Afrikaanse gr. 4-leerders wat dit kon regkry, maar in 2016 was daar net 2% leerders wat hierdie maatstaf behaal het. In Engeland het 57% leerders die maatstaf bereik en in Chili het 25% dieselfde maatstaf behaal,” het Spaull bygevoeg.

“Om te kan lees is die sleutel tot akademiese en toekomstige sukses,” het Celeste Combrinck, waarnemende direktrise van die Universiteit van Pretoria se sentrum vir evaluering en assessering (CEA), gesê. “As jy nie kan lees nie word jou geleenthede op skool of ná skool beperk. Daarom moet ʼn kind reeds van ʼn baie jong ouderdom af begin lees.

“Wat ontstellend is, is dat kinders van alle tale in Suid-Afrika sukkel om te lees. Terwyl minder as die helfte van die leerders wat die toetse in Engels en Afrikaans geskryf het met genoeg begrip kan lees, lees byna 80% van die leerders in die ander nege amptelike landstale sonder begrip.”

Die verslag toon die Wes-Kaap, Vrystaat en Gauteng het die beste lesers en die leesprestasie in Sepedi, isiXhosa, Setswana en Tshivenda is die swakste.

Seun_bril_lees_boeke.jpg

Foto: Lamanlibrary.org

Oorsake vir swak syfers

Combrinck reken die swak leesprestasie kan moontlik uit twee moeilike oorgange in die vierde skooljaar spruit. Leerders moet in dié jaar die oorgang maak van leer om te lees na lees om te leer.

“Met ander woorde, daar word van hulle verwag om die taal goed genoeg te verstaan sodat hulle handboeke en ander geskrewe materiaal kan bestudeer. Terselfdertyd moet leerders wat in gr. 1 tot 3 in hulle moedertaalonderrig is, dikwels in hierdie jaar oorskuif na Engelse onderrig en hierdie situasie sal byna vir seker ʼn negatiewe impak op gr. 4-leesgeletterdheid hê.”

Benewens die leesgeletterdheidstoetse het CEA-navorsers ook ander faktore in die skool-, klaskamer- en tuisomgewing ondersoek om moontlike redes vir die leesprobleme op te spoor. Hulle het die volgende opgemerk:

  • 4-leerders wat in afgeleë landelike gebiede en nedersettings woon, het die laagste leesgeletterdheidstelling in vergelyking met ander plekke.
  • Klasgroottes is besig om toe te neem. In die gr. 4-studie was die gemiddelde klasgrootte 45 leerders per klas en in Limpopo, die provinsie wat die swakste resultate in die jongste Pirls-navorsing gelewer het, was die getal 55. Die internasionale gemiddeld vir klasgroottes is 24 leerders per klas.
  • Minder jong onderwysers betree die stelsel. Die meeste leerders word deur ouer onderwysers geleer, maar dit hou nie direk verband met die leesgeletterdheidstellings nie.

Prof. Sarah Howie, die nasionale navorsingskoördineerder vir Pirls in Suid-Afrika, hoop haar span het genoeg gedoen om die omvang van die plaaslike probleem te illustreer. “Ons kan bewyse en voorstelle lewer, maar ander kundiges moet nou aan boord kom en die werk verder neem. As ons eensgesinde mense met eerlike bedoelings kan saambring wat geld en hulpbronne doeltreffend vir onderwys kan gebruik, is daar geen rede waarom ons dit nie kan oplos nie, hoewel dit tyd en harde werk sal verg,” meen sy.

“Die Pirls 2016-navorsing beklemtoon die behoefte om die gehalte van onderwysers te verbeter. Ons moedig die minister en adjunkminister van onderwys aan om te kyk na verbeterde maniere om gekwalifiseerde onderwysers aan te stel,” het Nonceba Mhlauli, namens die ANC se studiegroep oor basiese onderwys, gesê.

Debbie Schäfer, die Wes-Kaapse minister vir onderwys, het ook gesê die jongste Pirls-resultate is skokkend. “Hoewel die Wes-Kaap die provinsie is wat die beste in die navorsing gevaar het, is ons beslis nog nie tevrede met die resultate nie.”

Schäfer het gesê dit is duidelik dat nog meer gedoen sal moet word om leerders se leesgeletterdheidsvlakke te verbeter. “Geen kind moet na gr. 4 bevorder word indien hy of sy nie die basiese geletterdheid- en syfervaardighede bemeester het nie. Ons sal nie rus alvorens ons uitstekende onderrig elke dag in elke skool en klaskamer in die Wes-Kaap kan verskaf nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

25 Kommentare

BOELIE ·

AG ek kan maar net lag .. in die land van die blindes is die eenoog koning. LESUFI gaan met sy nuwe beleid van 60 kinders per klas met verskillende tale en etnisiteite en gelowe net die skoolsisteem en leesvermoe NOG MEER VERSWAK .. who cares? Sit jou kind in ‘n privaatskool of doen home schooling . SA se staatskole is nie meer vir opgevoede kinders nie. Hulle wil messteek en skersteek en mekaar slaan en boelie in badkamers en hare trek en klere skeur ..

Basson ·

Boelie, dis ongelukkig nie die antwoord. Dis ons ons almal se belang dat al SA se kinders ‘n beter opvoeding kry sodat ons ekonomies kan groei , anders gaan SA nuwe definisie gee aan die term ‘hool’. (In jou moedertaal.)
Ekonomiese voorspoed en ‘n stabiele land kan deurgetrek word na die begin van skoolopvoeding.
(Ironies dat iem van US kommentaar lewer…)

BOELIE ·

BASSON ek kan ongelukkig nie met jou saamstem nie. Dit klink vir my baie na ‘n aanname. Soos ek verstaan het Zimbabwe een van die hoogste “opvoeding (lees geleerdheid) syfers”, en hoe het die ekonomie daar gelyk tot nou toe? SA is klaar ‘n hool en LEES is baie laag op die Minister se agenda.

sug.... ·

Maar ek is seker hul kan malgaan op selfone! Komaan ouers, as jul omgee moenie net aan skole oorlaat nie. Laat jou kind LEES soos in BOEKE. Speel speletjies as gesin waar hul breinfunksies moet gebruik!

D.Kotzee ·

Kinders se lees vermoëe lui ouers se skuld!plak kinders voor tv neer van kleins af in pleks van te lees vir hulle en sodoende n liefde vir boeke en lees te kweek!lees help spelling ook!!Ouers WORD WAKKER!!

M A ·

Was jou ouers dan ook lui, of net jy? Ek dink almal weet ‘n mens begin ‘n sin met ‘n hoofletter…en waar is die ander woorde?

Hugo ·

Het dit nie tyd geword dat ons die soort toetse op die onderwysers ook doen nie? Is dit nie dalk waar die probleem lê nie?

Valerie ·

Gelukkig vir die wat nou so verskonings uitdink, het net 50 lande deelgeneem. SA kon dalk laaste van 150 lande gewees het.

Hanna ·

Ons eie president kan dan skaars lees… Wat n inspirasie! Betwyfel of hy eens vol sinne kan skryf.

PIPPY LANGKOUS ·

Hoe word daar verwag van SA se skoolkinders om in graad 2 al te lees as ons president nou nog nie kan lees al is hy volwasse nie?

JPV ·

Skokkend! Minister sê kinders het swakker gevaar as wat sy verwag het. Maw sy weet die kinders se lees vermoë is nie op standaard en onderwys, soos ander staatsdepartemente, is die afgrond af. Onderwys is die fondasie van ‘n goed opgevoede land en sy mense. Amper vergeet ek – dit is waar die ANC se ondersteuningsbasis lê……, die onopgevoede massas.

Werner ·

Ek wil graag ‘n kantnota maak: Ek sien in alle Afrikaanse publikasies word Afrika-tale in die Afrika-taal beskryf. ‘n Sin in ‘n Afrikaanse publikasie sal byvoorbeeld lui: “Afrikaans is lekker, Engels is lekkerder en isiZulu is die lekkerste.” Dis natuurlik verkeerd, aangesien Afrikaans Afrikaanse name vir die tale het. isiZulu is net isiZulu in Zoeloe, of in ‘n ander taal wat nie ‘n woord vir die taal het nie. Dit kan vergelyk word met ‘n Engelse sin “Some English readers struggle with Deutsch.” Dit moet natuurlik “German” wees, of in Afrikaans “Duits.” Afrikaans het woorde vir Afrika-tale, bv. Tswana (nie Setswana nie) of Xhosa (nie isiXhosa nie) of Zoeloe (nie isiZulu nie). Ek besef dit pla seker net vir my, maar ek verstaan nie hoekom daar dubbel-standaarde moet wees met Afrika-tale nie, dit klink vir my altyd bietjie hoogmoedig en “grand” as mense praat van isiZulu, terwyl ons taal so ryk is aan name. Amper net so erg soos om te skryf “…ons bly vreelik lekker hier in Australia…”

Valerie ·

Ek dink jy bekommer jou oor absoluut niks; en niemand sien jou punt nie. Wat probeer jy eintlik sê?

Therese ·

Interessante opmerking, Werner.
Nog nooit so daaraan gedink nie, maar jy het beslis ‘n punt beet.

Lankal al bekommerd ·

Spelling en lees is `n hewige groot probleem deesdae. Ek sien selfs op Maroele Media, die kommentaar van mense loop oor van spelfoute. Lyk nie of enige iemand hul kommentaar weer deurlees vir spelfoute nie. Dit is `n algemene tendens. Ek sukkel tans om my kind te help om reg te spel want in die skole word daar nie meer aandag gegee aan spelling nie. My seun se juffrou het net besluit hierdie jaar sy is verveeld met die voorgeskrewe boek en is nie lus om dit weer hierdie jaar te doen nie. Hy lees baie, is verskriklik lief vir die Kennis boeke en storieboeke maar daar is net nie meer tyd om te lees nie want daar word soveel verwag van `n kind, soveel huiswerk gegee. Ek onthou toe ek in die skool was, deel van jou huiswerk was om bladyse soveel tot soveel van jou voorgeskewe boek te lees. Dit gebeur nie meer nie. Intussen word hul oorlaai met huiswerk en sit tot laat nag alles uitpluis met ma wat natuurlik ook moet help. Dan praat ek nie eers van die departementele vraestelle wat oorvloei van die spelfoute dat die onderwysers dit moet regmaak nie. Watter tipe voorbeeld stel dit vir `n kind wat deur `n vraestel gaan. Die handboeke is vol spelfoute en word kar sommer in die plek van motor gebruik, lorrie in pleks van vragmotor. Dan praat ek van `n handboek van Graad 3. Dit sal ongelukkig nie verander nie.

bgj van der westhuizen ·

wie moet ons bedank vir ales die anc regering en die dom np wat alles net oor gegee het wat het julle gedink gaan gebeur alles wal uit mekaar

Boskaas ·

Maar minstens mag hulle hul hare dra soos hulle wil.

Dis die eintlike oorwinning wat tel

Tinktinkie ·

Sal interessant wees om statestiek per skool te sien. Ons is in bevoorregte posisie (nie privaatskool nie) dat alle leerders (primêre skool) ‘n verpligte rekenaarlees periode per week het met resultate van tekortkominge/probleme/suksesse. Vrywilligers (mamma’s) help verder met lees periodes-lees deur speel. Departementele boeke word as aanvullend gebruik…onderwysers skryf self notas/lesse dat leer lees op d regte manier plaasvind. As ons moet wag vd dept van onderwys…gaan daar niks gebeur nie!!

Bekommernis ·

Daar is ‘n groter bekommernis omdat Jerusalem nou Israel se hoofstad is deur onse ANC-regering as onderwys, so wat kan ons verwag?

JCS ·

Ek stem saam met Werner en Lankal al bekommerd. Die handboeke moet foutloos wees. Die kinders moet die aanleer van ‘n geskrewe taal behoorlik leer en dit kan net gedoen word as die taal korrek gepraat word. Die ergste is dat kinders ‘n taal moet leer lees en skryf wat hulle nie eers praat nie! Luister net hoe praat ons politici…. As jy Engels nie soos die “Queen” praat nie, dan is jy ‘n fout!

Stella ·

Die boeke wat die departement aan skole verskaf is glad nie op standaard nie en onderwysers word gedwing om dit te doen. Die departement kan net dit voor hulle eie deur lê. Sommige vakadviseurs is ongeskik ipv behulpsaam. Die mense wat nie in die onderwys werk nie, het nie ‘n idee wat aangaan in die binnekring nie.

ABC ·

Die probleem is woord identifisering…. kinders leer nie meer die abc en klanke nie en kan glad nie spel nie… hulle moet woorde identifiseer en indien ‘n kind ‘n woord klank is dit die “grootste sonde”. Leer die kinders om weer te klank dan sal dit dalk beter gaan met spelling en lees.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.