Die liggame van Strydom en James Bethel (44) is onderskeidelik verlede Saterdag in afsonderlike kamers by die La Quinta Inn gevind. Die polisie in Springfield het in ʼn verklaring gesê die voorlopige uitslae van die nadoodse ondersoeke wys geen tekens van vuilspel nie.
ʼn Familievriend van Strydom het intussen aan Maroela Media gesê Strydom het die week voor sy dood vir sy vrou gesê hy en Bethel voel nie lekker nie en dat hulle ’n dag langer in Springfield gaan bly. “Sy het van die Saterdag af gesukkel om hom in die hande te kry.” Volgens die vriend het Strydom drie kinders wat saam met hul ma in Zambië woon. Strydom en Bethel het met motorfietse op Amerika se bekende Roete 66 gereis.
The Guardian berig intussen dat Strydom die hoofbestuurder van Eurasian Natural Resources Corporation (ENRC) se filiaal Congo Cobalt Corp in die DRK was. Bethel was tot einde September hoof van ENRC se koper- en kobaltbedrywighede in die DRK. Hy het glo hierna sy eie onderneming begin.
Volgens The Guardian se berig is ENRC baie omstrede en het die myngroep in November 2013 van die Londense aandelebeurs gedenoteer. Die drie stigters van die maatskappy en die Kazakstanse regering het glo besluit om dit ʼn private maatskappy te maak. Die maatskappy is glo ook by bewerings van bedrog, korrupsie en omkopery betrek.
Die polisie in Springfield het intussen toksikologieverslae in sy ondersoek na Strydom en Bethel se dood aangevra.