SA pos voortvlugtende terug na Ierland

Ruth Lawrence, ʼn Ierse burger, is Woensdag deur Suid-Afrika aan Ierland uitgelewer waar sy op aanklagte van dubbele moord teregstaan. (Foto: Verskaf)

Suid-Afrika het Woensdag ʼn internasionaal gesoekte verdagte aan Ierland uitgelewer waar sy op aanklagte van dubbele moord teregstaan.

Ruth Lawrence, ʼn Ierse burger, is in Oktober verlede jaar in Bloemfontein in hegtenis geneem en het kort daarna op aanklagte van moord in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn. Die saak is destyds hangende ʼn uitleweringsaansoek uitgestel.

Lawrence en haar gewese vriend, Neville van der Westhuizen, staan albei in Ierland tereg op aanklagte van die moorde. Van der Westhuizen is ʼn Suid-Afrikaner wat ook tans in aanhouding is.

Die moorde is in 2014 in Ierland gepleeg en Lawrence en Van der Westhuizen het owerhede jare lank ontduik.

Ruth Lawrence (Foto: Verskaf)

Van der Westhuizen dien tans ʼn vonnis uit vir ʼn ander moord wat hy in KwaZulu-Natal gepleeg het. Die aansoek om sy uitlewering na Ierland is nog in die Durbanse landdroshof aan die gang.

Genl.maj. Mathapelo Peters, nasionale polisiewoordvoerder, sê Lawrence se opsporing en uitlewering is die gevolg van samewerking tussen die Ierse polisie (wat vroeër die week ʼn afvaardiging na Suid-Afrika gestuur het om Lawrence te kom haal), die polisie, Interpol in Pretoria, die Valke en die misdaadintelligensie-eenheid.

Neville van der Westhuizen. (Foto: Verskaf)

Sy is Woensdag van Bloemfontein na Pretoria geneem en aan die Ierse polisie oorhandig. Lawrence is dieselfde aand na haar geboorteland teruggevlieg waar sy op die moordaanklagte sal teregstaan.

“Oor die afgelope vyf jaar het lede van Interpol se nasionale sentrale buro in Pretoria meer as 60 voortvlugtige misdadigers in hegtenis geneem vir wie daar uitleweringsversoeke en rooi kennisgewings van Interpol was,” het Peters gesê.

“Uit dié 60 gesoekte voortvlugtiges is 42 al suksesvol uitgelewer, terwyl 27 uitleweringsaansoeke tans voor verskeie Suid-Afrikaanse howe dien.”

Peters sê Interpol het ook 11 voortvlugtiges in die buiteland opgespoor wat sedertdien aan Suid-Afrika uitgelewer is om verhoor te word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

trotsNAMSA ·

Sjoe, SA se Wet en Orde, is besig om nou die gesoektes, een vir een aan te keer. Is daar bonusse op die spel of het hulle nou wakker geskrik ? :)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.