SA redder in Hawaii help sommer dáár ook lewens red

‘n Skermgreep van ‘n video van die redding in Hawaii.

Heldedade is nie beperk tot kantoorure nie.

Dít was duidelik toe ʼn reddingswemmer van Suid-Afrika se Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) die afgelope naweek twee vroue uit ʼn sinkende voertuig in Hawaii in die VSA gered het – en dít terwyl hy op dié eiland vakansie gehou het.

Martin Wesemann, ʼn reddingswemmer verbonde aan die NSRI in Houtbaai, Sean Hutchinson, ʼn Suid-Afrikaanse vriend van Wesemann wat tans in Hawaii woon, en nóg ʼn man het die vroue Saterdag te hulp gesnel toe hul voertuig vermoedelik per ongeluk in die see by ʼn hawe in Kailua-Kona beland het.

Daar word vermoed dat die voertuig se navigasiestelsel hulle per ongeluk op ʼn boothelling by die Honokohau-marina-en-kleinboothawe laat beland het voordat hulle die see ingery het.

“Ek, Sean, en vriende van ons het teruggekeer van ʼn vaart op Sean se boot,” vertel Wesemann.

“Ons was op die boot langs die boothelling toe ons die voertuig met twee vroue verby ons op die boothelling sien ry het sonder om eers spoed te verminder. Die voertuig het in die water beland voordat dit verder die hawe ingedryf en begin sink het.

“Albei vroue het reggemaak om deur die voorruit te ontsnap. Natuurlik het ek, Sean en ons medevaarder Tony in die water gespring om hulle te help,” vertel Wesemann.

Die driemanskap het die twee vroue deur die voorste twee vensters uit die sinkende voertuig en tot by die hawehoof gehelp.

Die plaaslike polisie, brandweer, reddingsdienste en ʼn ambulans was kort daarna op die toneel.

Wesemann het in daardie stadium reeds ʼn sleeptou tot by die voertuig aangelê. Daar was geen sleepstang aan die voertuig nie en Wesemann het daarom die tou aan die voertuig se as onder die motor én onder die water vasgeknoop.

“Ons was op die regte plek op die regte tyd om hulle te help,” sê Wesemann.

Die vroue is nie tydens die voorval beseer nie.

  • Martin Wesemann is die man in die grys hemp. Sean Hutchinson is die man in die swart hemp en ene Tony die man in die rooi hemp. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

George ·

Daai auntie het die eerste 15sekondes net daar gesit en gesels. Kon maklik losmaak en uitkom. Welgedaan aan die Saffas wat ingespring het.

Annelize ·

Goeie genade! Hoe ry mens net so blindelings op wat die GPS wys? Jy kan mos vir jouself sien dit lyk mos nie reg nie, dan stop jy, en “re-route”.

piet ·

Lyk nie juis of dit ‘n lewensgevaarlike situasie was nie. Baie tyd gehad om uit te klim en hulle het hul tyd gevat. Water was ook nie so diep nie. Oordrewe reaksie?

Pandora ·

Welgedaan!! Mens besef nie hoe gou ‘n ongeluk gebeur nie. Die manne het flink gedink en gereageer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.