SA se ‘grootste orrel’ nóg gebou

Die ontwerp van die grootste orrel in SA nóg (Foto: Verskaf)

Jan Elsenaar, die bekende orrelbouer van Brandfort in die Vrystaat, staar ’n groot taak in die gesig nadat hy sowat ses maande gelede versoek is om die grootste orrel met rein meganiese speel en registeraksie in Suid-Afrika te bou.

Volgens Elsenaar gaan dié orrel 8 m hoog staan en 6 m breed wees en uit drie manuale, 3 000 pype en twee groot pedaaltorings bestaan. Die orrel word hoofsaaklik van eikehout vervaardig.

Die massiewe orrel spog ook met unieke eienskappe soos die rugwerk, ’n kleiner weergawe van die orrelkas, wat agter die orrelis se rug opgerig word om die klank nader aan die publiek te bring.

Volgens Elsenaar het ’n private persoon hom genader om hierdie enorme orrel vir ’n katedraal in die Wes-Kaap te bou waar spesiale orrel-uitvoerings aangebied gaan word.

Hy beoog om met die hulp van vier assistente dié projek binne vyf jaar af te handel.

Elsenaar se liefde vir die koning van instrumente het reeds op driejarige ouderdom begin. “As kind het ek al begin om orrelpypies te maak en traporrels te restoureer,” vertel hy.

Jan Elsenaar (links) se seun Marinus (regs) volg in sy voetspore (Foto: Verskaf)

Hy het in 1985 van Nederland na Suid-Afrika geëmigreer en sy formele orrelopleiding by prof. Stefanus Zondagh in Pretoria en prof. Deon Lamprecht aan die Universiteit van die Vrystaat begin.

Hy het as orrelbouer sy vakleerlingskap in Bloemfontein begin en hierdie unieke ambag verder in Johannesburg voortgesit. In 1992 het hy teruggekeer na die Vrystaat waar hy sy onderneming, Protea Orrelbouers, op die been gebring het.

Elsenaar se kinders volg in sy voetspore en het intussen ook by die besigheid betrokke geraak. “My seun Marinus is nou al byna drie jaar voltyds by my en toon ’n besondere passie vir die orrelbou. My dogter Marianne het een jaar saam met my gewerk. Vroulief is op kantoor en hanteer al die fakture en finansies,” vertel hy.

Elsenaar se hande staan vir niks verkeerd nie en hy het die afgelope jare al talle orrels vir Anglikaanse en Lutherse kerke oral in die land gebou. Hy is ook verantwoordelik vir die stem en instandhouding van meer as 200 pyporrels in die Vrystaat, die Noord- en die Oos-Kaap.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

RS ·

Wonderlik! Orrel is iets wat aan die uitsterf is. Dankie aaan daardie weldoener!

karen ·

bitter min musiek instrumente kom by ‘n volwaardige orrel.

Elize ·

Ek sal graag wil weet hoe dié orrel met die orrel in die Veremarksaal in Port Elizabeth vergelyk.

Christo Kritzinger ·

Die orrel in die Veremarksaal het ongeveer 5500 pype. Dus groter MAAR hierdie is die grootste suiwer meganiese orrel nog gebou in RSA. Dit beteken dat wanneer ‘n noot gedruk word deur ‘n ingewikkelde stelsel van hefboompies die kleppie oopmaak wat dan wind toelaat om in te vloei in die betrokke pyp en dan klank voort te bring. Verder is die registeraksie van die orrel OOK meganies m.a.w daars nie ‘n elektriese of pneumatiese komponent betrokke nie. Hoop dit help.

Gert ·

Brandfort en sy inwoners kan trots wees op Jan en sy familie. Ek het ook die voorreg gehad om 10 jaar op Brandfort te kon bly, wat n voorreg was dit nie. Daar is nog baie ander uitblinkers op Brandfort.

Susan vl ·

Bewaar hierdie wonderlikke orrel…met als wat nou so afbrand..
Goeie stuk werk…vertrou ek kan hierdie orrel hoor in aksie.

Tante Koba ·

Jan is regtig ‘n meester met ‘n orrel. Julle moet ook hoor hoe speel hy – dis ongelooflik mooi. Dis goed dat sy talent nog so benut kan word.

Jeremia ·

Dankie – dit is skeppend, positief en konstruktief. En sal vreugde aan baie mense verskaf.
Groot dank aan almal wat dit moontlik maak!

Dalene vd Berg ·

Wonderlik dat ons sulke begaafde mense in Suid Afrika kan hê!!! Hierdie projek is werklik iets besonders. Was daar al ooit voorheen so n groot orrel iewers in die wêreld? Kan dit beswaarlik glo.

Julie Jansen van Rensburg ·

Laat my aan ons dae in Durban terugdink toe ons – as musieklefhebbers – konserte in die stadsaal bygewoon het – in daardie vervloë dae het die stad ‘n pragtige orrel gehad – wonder of dit nou nog daar staan – en in werkende toestand is??? En vir liefhebbers van orrelmusiek kan selfs ‘n gewone “klaviergrootte” orrel in iemand se huis wonderlike musiek optower ons het in daardie jare ook ‘n YAMAHA orrel gehad en veral my kinders was lief om die instrument te bespeel. Sommige sal sê so ‘n Japanese orrel kan geensins met hierdie groot instrument meeding nie – ek stem – maar glo my, ‘n seun wat destyds gereeld by ons kom kuier het, was ‘n absolute MEESTER op ons huis-instrument – kon vir ure sit en luister terwyl sy vingers so oor die klawers gegly – en hy die verskillende ingeboude klankeffekte tot hulle volle glorie uitgelig het…

hercu ·

geld mors!!

duisende arm mense & kinders kan gevoed word :-(

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.