SA swemlegende se Olimpiese medalje gesteel

Joan Harrison (middel) met haar goue medalje by die Olimpiese Spele in Helsinki in 1952 (Foto: AFP)

Die Suid-Afrikaanse swemlegende Joan Breetzke (née Harrison) se goue Olimpiese medalje is tydens ʼn huisbraak gesteel.

“Sy is uiteraard nogal teleurgesteld, maar probeer positief bly,” het Craig Murray, een van Harrison se kleinkinders, aan Maroela Media gesê.

Die medalje is in ʼn kluis in Murray se ouers se huis in Selborne in Oos-Londen gehou. Daar is Vrydagaand of in die vroeë oggendure Saterdag by die huis ingebreek terwyl die gesin vir ʼn paar dae weg was.

Murray se ma het Saterdag besef daar is by die huis ingebreek toe sy vinnig wou gaan seker maak alles is nog in orde. Die alarmstelsel is gedeaktiveer en volgens Murray het hulle nie ʼn kennisgewing ontvang nie.

Huishoudelike items soos televisies asook juweliersware is gesteel. Die inbrekers kon egter ook daarin slaag om die kluis oop te breek en Breetzke se goue medalje te steel.

Breetzke het die medalje in 1952 op 16-jarige ouderdom by die Olimpiese Spele in Helsinki gewen toe sy eerste in die 100 m-rugslag geëindig het.

Murray en sy gesin het juis oor die feestyd by Breetzke gekuier by haar huis in Cinsta East buite Oos-Londen.

Breetzke se familielede probeer nou alles in hul vermoë doen om die medalje weer op te spoor. ʼn Saak is by die polisie aanhangig gemaak en daar is ook ʼn beloning uitgeloof.

“Ons probeer nou maar om die inligting so ver as moontlik te versprei en hoop ons is baie, baie gelukkig. Miskien weet iemand iets of het iemand iets gesien.”

Die voor- en agterkant van die medalje wat gesteel is

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.