SA vliegskool sê VSA-sanksies is ongegrond

Foto ter illustrasie. (US Department of Defence / Getty Images via AFP)

Die Test Flying Acadamy of South Africa (TFASA) hou voet by stuk dat daar geen ongerymdhede by dié vliegskool plaasgevind het, of dat hy enige wetgewing oortree het nie. Dit volg nadat die departement van handel in die VSA sanksies teen TFASA ingestel het omdat die vliegskool “China gehelp het om Britse vegvlieëniers te werf”.

TFASA is nou tot ʼn lys van entiteite gevoeg wat aan uitvoerregulasies onderworpe is.

Die vliegskool, met sy hoofkantoor op Oudtshoorn in die Wes-Kaap is, het vir die eerste keer op die VSA se radar beland nadat die Verenigde Koninkryk in Oktober verlede jaar ʼn kennisgewing uitgereik het waarin TFASA as een van die maatskappye genoem word wat China glo help om Britse vlieëniers vir sy weermag te werf.

Volgens Britse owerhede het China verskeie militêre vlieëniers gewerf om sy weermag op te lei om Westerse oorlogsvliegtuie en -helikopters te verslaan, het SkyNews berig. Dít word deur dié regering as “ʼn bedreiging vir die VK se belange” beskou, en daarom is die kennisgewing uitgereik. TFASA het toe al ontken dat hy enigiets verkeerd doen.

TFASA het vandeesweek gesê die vliegskool neem kennis van die VSA se sanksies.

“As ʼn Suid-Afrikaanse maatskappy wat by Suid-Afrika se Nasionale Konvensionele Wapenbeheerkomitee (NCACC) geregistreer en nie afhanklik van Amerikaanse uitvoere is nie, raak hierdie stap [deur die VSA] nie TFASA se daaglikse bedrywighede nie.

“Nietemin is TFASA teleurgesteld dat die Amerikaanse departement van handel hierdie stap sonder beraadslaging [met TFASA] gedoen het.”

TFASA sê voorts dat Navo- verdediging- en veiligheidsagentskappe al langer as ʼn dekade ten volle bewus is van die vliegskool se bedrywighede.

“Onlangse kommunikasie tussen die Amerikaanse FBI, die Amerikaanse lugmagkantoor en die Vereniging van Eksperimentele Toetsvlieëniers het bevestig dat TFASA geen wette oortree het nie.

“Nadat ons prokureurs in die VK met die Britse departement van verdediging geskakel het, het dié departement bevestig dat ‘hulle nie glo TFASA aan enige aktiwiteite deelneem wat strydig is met huidige Britse wetgewing nie’.”

TFASA sal nou met die departement van handel in die VSA skakel om sy posisie rakende die aangeleentheid te bevestig.

“TFASA het streng protokolle en ʼn gedragskode wat enige TFASA-werknemer verhoed om enige inligting of opleiding te verskaf wat as regs- of bedryfsensitief beskou word, of amptelik  geklassifiseerd is.

“Al TFASA se opleidingsmateriaal is dokumente wat vryelik beskikbaar is, of word direk deur TFASA se kliënte verskaf. TFASA voldoen nog altyd aan die wette van Suid-Afrika, asook enige ander regsgebied waarin dit bedryf word.”

TFASA benadruk dat die opleiding wat die vliegskool bied, ook deur ander burgerlike kontrakteurs gedoen word, insluitend organisasies in die VSA, Australië, die VK, Kanada, Nieu-Seeland en Europa.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Aai ·

Hierdie is maar net die druppel in die emmer hier kom nog groot dinge vir SA.

Hennie Biebouw ·

Ek dink jy het nogal ‘n punt beet…China is op die punt om beheer te neem van die seeroete om die Suidelike punt van Afrika.

Marthinus W ·

Die dag toe president John F Kennedy vermoor is. Dit was n staatsgreep, en daardie oorlogsugtiges is steeds in beheer.

Hennie Biebouw ·

As Britte besluit om eerder Chinese te word, klink dit vir my na ‘n Britse probleem…..

Aai ·

Kan nie verstaan hoe trek mense na Brittanje na wat hulle met ons voorvaders gedoen het.

Martie Smartie ·

Waar ‘n rokie is … Sal die VSA nou regtig die plek vals beskuldig?

Fran ·

Dit gaan maar alles om die ANC se hand-om-die-blaas verhouding met Rusland en China. Groot gatgabbas.

Delia ·

Kan iemand dalk vir my verduidelik hoekom Brittanje vies is. Oral oor die wereld word China se goedkoop produkte ingevoer of is ek verkeerd.
En Brittanje is nou aktief besig om ons onderwysers vir hulle te werf.
So hoe nou…of voel ek maar net so omdat my Pa my so mooi vertel het wat in die konsentrasiekampe gebeur het

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.