SA vrou bereik Kaapstad tweede in seilwedvaart

Kirsten Neuschäfer (39) het tweede in Kaapstad aangekom. (Foto: Facebook / Aida Valceanu / Golden Globe Race)

Die Suid-Afrikaner Kirsten Neuschäfer (39) was die tweede deelnemer in die Golden Globe-seilwedvaart (GGR) om die wêreld om Kaapstad te bereik. Neuschäfer, die enigste vrouedeelnemer, het Dinsdagaand op haar Minnehaha-seiljag by die Cape Town Photo Gate in Grangerbaai aangekom. Alle deelnemers moet verby dié punt beweeg, maar die wedvaart is nog lank nie verby nie.

Simon Curwen van Brittanje het Grangerbaai Sondag eerste bereik. Hy vaar op sy seiljag Clara.

“Ek geniet die suidelike [Atlantiese] Oseaan werklikwaar en het opgehou om te gespanne te wees oor my posisie,” het Neuschäfer volgens GGR se webwerf by haar aankoms aan die span gesê.

“Omdat ek dit so geniet, wil ek amper nie hê die tyd moet so gou verbygaan nie. Ek geniet dit om nie ʼn GPS te hê nie, omdat dit my dwing om oplettend te wees. Dit is ook lekker om nie gedetailleerde weervoorspellings te hê nie, omdat dit my dwing om meer te dink. Omdat dit ʼn resies is en nie ʼn aflewering nie, geniet ek dit om die seiljag so vinnig as moontlik te laat vaar.”

Neuschäfer, oorspronklik van Gqeberha (Port Elizabeth), is een van twee Suid-Afrikaners, onder wie Jeremy Bagshaw, wat tans saam met 11 ander seilvaarders aan die wedvaart deelneem. Atesaam 16 deelnemers het op 4 September uit Les Sables-d’Olonne in Frankryk vertrek. Hulle moet alleen, sonder onderbrekings, 48 000 km via die vyf sogenaamde Great Capes om die wêreld vaar en dan weer in Frankryk eindig.

Hulle mag wel skuiling soek of anker gooi om herstelwerk te doen, maar mag by geen hawe aandoen nie. Deelnemers mag ook nie materiële bystand van enige persoon ontvang nie.

Van Kaapstad sal die deelnemers nou na Tasmanië vaar, van Tasmanië na Kaap Hoorn in Suid-Amerika en dan oor die Atlantiese Oseaan tot by die eindstreep.

GGR verwag dat die wedvaart in Junie 2023 tot ʼn einde sal kom.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Phillip ·

Ek weet nie so mooi nie daai golwe kan maar groot word . teveel respek vir die see, see is te Onvoorspelbaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.