SA vrou vrees ‘marteling omdat sy wit is’ as VSA haar deporteer

Chantelle Robbertse voer onder meer aan dat sy in Suid-Afrika gemartel gaan word omdat sy wit is. (Argieffoto: ICE/Flickr)

Die Amerikaanse appèlhof het die aansoek van ʼn Suid-Afrikaanse vrou – wat haar onder meer op die Konvensie teen Marteling beroep het om nie na haar geboorteland gedeporteer te word nie – verwerp.

Luidens hofdokumente het Chantelle Robbertse die VSA in 1998 binnegekom en het sy in 2012 ʼn permanente burger van die land geword. Sy en haar ma, Gloudina, is skuldig bevind aan identiteitsdiefstal nadat hulle die Kaliforniese departement van indiensnemingsontwikkeling uit nagenoeg $475 000 (byna R9 miljoen) geswendel het.

Die twee het volgens die kantoor van die Amerikaanse staatsaanklaer vals ongeskiktheidseise ingedien deur die identiteit van werklike mense – sonder hul medewete – te gebruik. Nadat die departement die eise goedgekeur het, is ʼn debietkaart uitgereik in die naam van die eisers as wie die twee hulle voorgedoen het.

Gloudina en Chantelle het daarna posbusse gebruik om die debietkaarte te ontvang en het die geld later onttrek en vir persoonlike gewin gebruik.

Albei het skuldig gepleit.

Gloudina is in 2019 tot 54 maande tronkstraf gevonnis en Chantelle tot 24 maande vir haar aandeel in die bedrogspul. Die regter het ook beveel dat hulle net meer as $475 000 in restitusie aan die departement terugbetaal.

Die VSA se Raad vir Immigrasie-appèlaansoeke het ná afhandeling van die saak beslis dat Chantelle Robbertse uit die land gesit moet word, ʼn besluit waarteen sy geappelleer het.

Sy het onder meer aangevoer dat haar oortreding nie ʼn verlies van meer as $10 000 veroorsaak het nie, dat haar oortreding nie onder die kategorie van bedrog of misleiding val nie, en sy het haar ook op die Konvensie teen Marteling beroep.

“Robbertse het aangevoer dat sy in Suid-Afrika vervolg of gemartel gaan word omdat sy wit is, [omdat] haar pa voor 1998 ʼn hooggeplaaste lid van militêre intelligensie was, en dat haar familie andersins deur teenstanders van apartheid geteiken is,” lui die hofstukke.

ʼn Immigrasieregter het egter haar betoë verwerp en die Raad vir Immigrasie-appèlaansoeke het die besluit – dat sy na Suid-Afrika gerepatrieer moet word – bekragtig.

Die appèlhof het bevind Robbertse se “betoë en argumente oor die toestand in die land en die waarskynlikheid van marteling” voldoen boonop nie aan die vereistes vir hulp ingevolge die konvensie nie.

“Ons bekragtig die uitspraak van die Raad vir Immigrasie-appèlaansoeke en wys die petisie vir ʼn hersiening van die hand.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Riana ·

Hartseer om te erken dan mense soos Cloudina en Chantelle dit vir ander SA’ners onmoontlik maak om op ‘n eerlike en eerbare manier oorsee wil gaan werk.

Harley Davidson ·

Die vraag moet wees waarom minderhede van Suid-Afrika oorsee hulle heil moet soek

melaney ·

Hulle het ‘n goue kans om ‘n beter lewe deur hulle vingers laat glip.

Republikein in die Wes Kaap ·

Weet jy wat was haar vader se geskiedenis in die SAW?

Harley Davidson ·

Sy vererger so bietjie maar dit is ‘n feit dat daar in Suid-Afrika teen witmense gediskrimineer word.

Watsenaam ·

Ag, hier gaan dit goed. Kom terug. Daar is so pas 27000 mense wat soortgelyke oortredings gepleeg het vry gelaat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.