SA wil gasheer wees sou Oekraïne, Rusland wou gesels

Nosiviwe Mapisa-Nqakula (Foto: GCIS)

Suid-Afrika het aangebied om gasheer te wees vir vredesamesprekings tussen Oekraïne en Rusland in ’n poging om die oorlog in Oekraïne te beëindig.

Die parlement het Saterdag bekend gemaak dat Suid-Afrika en die Verenigde Arabiese Emirate albei bereid is om gasheer te wees vir vredesamesprekings tussen Oekraïne en Rusland sou die lande daartoe instem. Die samesprekings sal egter deur die Interparlementêre Unie (IPU) gefasiliteer word.

Die aankondiging is deur die speaker van die parlement, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, gemaak terwyl sy vandeesweek ’n verslag van die IPU-taakspan vir vreedsame oplossing van die oorlog in Oekraïne by die 146ste algemene vergadering van die IPU in Bahrein voorgelê het.

Mapisa-Nqakula is ’n lid van die IPU-taakspan.

Mapisa-Nqakula het in haar verslag aangedui dat die IPU se span vredesbouers al agt keer sedert sy stigting in Maart verlede jaar vergader het, waarvan ses van die vergaderings virtueel geskied het. Die span het ook ’n aantal individuele gesprekke met hoëvlak‑ parlementêre afvaardigings van Oekraïne sowel as Rusland gevoer as deel van voortdurende pogings om vrede te bewerkstellig.

Die taakmag het selfs besoek in Kiëf en Moskou afgelê waartydens daar met die leierskap van albei parlemente onderhandel is in ’n poging om die oorlog te help beëindig

Die speaker het voorts gesê sy die hoop die twee nasies se parlementêre leierskap sal daartoe instem om in persoon saam om dieselfde tafel te sit en te probeer om tot ’n vergelyk te kom.

“Die Verenigde Arabiese Emirate en die Republiek van Suid-Afrika is gereed om gasheer te wees vir so ’n belangrike vergadering tussen die Russiese en Oekraïense parlemente,” sê die parlement.

Lees al Maroela Media se berigte oor die konflik tussen Rusland en Oekraïne hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.