Saai dán in hof oor wynbedryf

(Foto: Saai)

Die organisasie Saai sal in Augustus sy saak in ʼn hof stel om die verbod op die verkoop en verbruik van wyn in restaurante ter syde te stel.

Die organisasie het Vrydag in ʼn verklaring gesê sy aansoek sal op 18 Augustus in die Pretoriase hooggeregshof aangehoor word. Dié aansoek kom nadat pres. Cyril Ramaphosa onlangs weer die verbod op die verkoop en vervoer van alkohol ingestel het.

Volgens Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai, is die herinstel van die drankverbod arbitrêr en irrasioneel. Die organisasie gaan nou in sy aansoek versoek dat artikel 44(1) en (2) van die nuwe regulasies opgehef word en dat wyn op wynplase en in restaurante bedien mag word.

“Die regering se stelling dat die regulasies ingestel is om die verspreiding van Covid-19 te beperk en om te voorkom dat die land se gesondheidstelsel oorbelas word, dra nie water nie. Die regering gee voor dat hy die ekonomie wil red, maar pas dubbele standaarde toe wanneer dit kom by die toepassing daarvan,” verduidelik Rossouw in die verklaring.

Rossouw wys daarop dat taxi’s ’n groot risiko is vir die verspreiding van die virus. Tog mag taxi’s teen 100%-kapasiteit funksioneer. “In dieselfde asem is restaurante oopgestel, maar word hulle verbied om wyn te bedien in ’n gereguleerde, higiëniese omgewing met fisieke afstand.”

Volgens Saai plaas dié regulasie die bestaan van die oudste familieplase in Suid-Afrika in gedrang en kniehalter dit ʼn sektor wat met die bestes in die wêreld kompeteer en ʼn kernrol in die land se ekonomie speel. Tog bied die regering steeds geen droogtehulp of finansiële bystand vir hierdie boere nie,” sê Rossouw.

“Deur hul mark te sluit verseker die regering hierdie plase se einde.”

Volgens dr. Theo De Jager, direksievoorsitter van Saai, is wynboerdery, anders as alkoholprodusente, nie net geskoei op ’n strewe na toenemende winsbejag nie. “Dit gaan ook oor ’n nalatenskap; die oordrag van kennis van geslag tot geslag; die integriteit van ’n handelsmerk; die naam op die etiket; en die onderhoud van ’n gesin en ’n gemeenskap.

“’n Wynboerdery is ook nie net ’n wingerd met ’n kelder langsaan nie. Dit is ’n bestemming waar besoekers en toeriste iets tasbaar van die omgewing kan ervaar. Dus speel so ʼn landgoed ’n wesenlike rol in die bemarking van ’n streek of provinsie en sy geskiedenis, en is hy afhanklik van ondersteuning nie net in terme van sy produk nie, maar ook as toeriste-aantreklikheid,” verduidelik De Jager.

Luidens die verklaring word Saai se aansoek deur 13 ander applikante uit die wynbedryf gesteun.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Deon ·

Is deel van die anc se plan nie om “white monopolity capital” te stop nie? Ek dink die saak oor familie plase maak hul saak swak, voor dit begin… Ek glo n ander benadering moet gebruik word.

Oros Soros ·

Daar kan mos nie enige sprake van reg en geregtigheid wees as die saak eers oor ‘n maand van nou aangehoor gaan word nie, hoekom die lang tydsverloop?

Prikkie ·

En so word grond gevat so sonder slag of stoot.

Vernietig die afset van die produk dan vernietig jy die produsent en dit is nie eers nodig om die onteiening van grond sonder vergoeding te wettig nie.

Daar is mos ander maniere om mense op hulle knieë te dwing.

Hier sien ons hoe dit gedoen word. So stil stil.

Anin ·

Die ANC regering wil die blanke wynboere tot op hul knieë dwing… Is dit nie maar deel van hul grondhervormingsdoel nie?
Alles wat na die inisiële inperking gebeur, is bloot politike gevegte in my opinie. Elkeen kan virhom/haarself dink watter 2 faksies hier betrokke is en albei daardie faksies het dit bo aan hul lysie van ondergang vir n eens suksesvolle, florerende RSA.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.