Saak teen motoris wat Middelburg-ma glo doodry, vorder stadig

Lizel Visagie (38).

Die saak teen die man wat daarvan beskuldig word dat hy Lizel Visagie in Maart 2019 in Middelburg, Mpumalanga, raakgery het, is weer in die streekhof op die dorp uitgestel.

Lizel (38) het haar dogter, toe 15 jaar oud, destyds uit die pad van ʼn motoris gestamp en só haar lewe gered. Sy het ernstige beserings opgedoen en het kort ná die voorval aan haar beserings beswyk.

Khumbulani Malinga, die man wat Lizel en haar dogter na bewering raakgery het, het die Visagies glo getref nadat hy na bewering van die verkeerspolisie gevlug het.

Malinga is ná die voorval wél aangekeer, maar die saak teen hom is voorlopig teruggetrek.

Die saak het daarna weinig gevorder, tot AfriForum se privaatvervolgingseenheid verlede jaar aan die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) en die polisie geskryf het dat die eenheid namens Visagie se naasbestaandes optree en vordering in die saak versoek het.

Die NVG het die klagte teen Malinga daarna heringestel.

Hy het Dinsdag vlugtig in die hof verskyn waar die saak teen hom weer met meer as twee maande uitgestel is.

Marie Hamman, Lizel se ma, het die uitstel as ʼn “frustrasie” bestempel. “Dit is ʼn stadige proses, maar ek wil graag sien dat geregtigheid geskied,” het Hamman gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Ben ·

Weer eens dieselfde storie as mal emma s’n. Saak uitgestel. Totdat dit doodloop. Wat ñ “circus”. Hierdie piesang regering lag vir ons en die hele wêreld.

Hennie J ·

Hoe is dit moontlik dat die saak so kan sloer terwl die vermaarde Adv. Nel daaroor toesig hou? Is hulle besig om hom ook n rat voor die oe te draai.?

Misky ·

Ons kan maar net te dankbaar wees vir Afriforum en hulle ons blankes bystaan en geregtigheid eis. Sterkte aan die familie in die saak en kan net indink waardeur julle moet gaan

kallie ·

As ons ‘n opname moet maak van sake wat net dood geloop het sal dit ‘n galbitter nasmaak laat. Mense gee naderhand moed op. Gaan kyk maar in enige staatsdepartement hoe die mense daar funksioneer en jy sal jou hande saam slaan. Telefone wat net lui, stelsels wat af is,kantore wat soos ashope lyk en ruik, Dis hoekom alle administrasies uitmekaar val, onkundiges weet nie hoe dit werk nie en daar is geen behoefte om werk dringend af te handel nie,respek en trots op jou werk betaan nie meer

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.