Saak van weermaglid wat MIV ‘doelbewus versprei’ weer uitgestel

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto)

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het sy teleurstelling uitgespreek oor nog ’n vertraging in die poging tot moord- en verkragtingsaak teen ’n voormalige lid van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW).

Die eenheid word egter bemoedig deur die stappe wat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) doen om te verseker dat daar geen verdere vertragings in die verhoor van die saak is nie. Die beskuldigde het na bewering die klaer, sy voormalige lewensmaat Antoinette Ndishishi, met MIV besmet terwyl hy geweet het dat hy die virus het en hierdie feit van haar weerhou het.

Sy naam word weerhou omdat die bewerings met sy gesondheidstatus verband hou.

Die beskuldigde het vandag vlugtig in die Pretoriase landdroshof verskyn, maar sonder sy regsverteenwoordiger. Die saak is voorheen in September verlede jaar uitgestel omdat die beskuldigde beweer het hy is siek. Na verneem word, het sy regsverteenwoordiger die aanklaer vanoggend ingelig dat hy ’n familiekrisis het.

Aanklaer Emile van der Merwe het ’n aansoek ingevolge S342A van die Strafproseswet ingedien dat die hof ondersoek instel of daar ’n onredelike vertraging in die afhandeling van verrigtinge was. Die hof het in die staat se guns beslis en het beveel dat die regsverteenwoordiger hom by die hof moet aanmeld vir ’n formele ondersoek.

Die beskuldigde en die klaer was albei lede van die SANW toe die beweerde misdade gepleeg is. Die privaatvervolgingseenheid het in 2018 by hierdie aangeleentheid betrokke geraak. Die eenheid het begin deur die SANW te dwing om die beskuldigde se mediese rekords te verskaf wat inligting oor sy MIV-status sedert 2007 bevat het.

Die SANW se weiering om hierdie rekords te verskaf, het daartoe gelei dat die NVG die saak twee keer moes terugtrek. Sonder die privaatvervolgingseenheid se volgehoue druk op die SANW sou die dossier nie voldoende bewyse bevat het om die beskuldigde finaal te vervolg nie.

“Hierdie saak is aansienlik vertraag voordat die verhoor selfs begin het, so ons kan geen verdere struikelblokke op die pad na geregtigheid vir Antoinette Ndishishi duld nie,” sê die privaatvervolgingseenheid se woordvoerder, Barry Bateman.

“Ons sien dit te dikwels dat die howe sake om flou redes van óf beskuldigde persone óf hul regsverteenwoordigers uitstel. Ons bedank die aanklaer vir die gebruik van die wetgewing wat tot sy beskikking is om die redes vir ’n vertraging te bevraagteken, en om die magte van die howe te gebruik om te verseker dat geen verdere vertragings die staat of die klaer in hierdie aangeleentheid benadeel nie.

“Ons sal ook aanhou om die klaer te ondersteun. Ons is daartoe verbind om te verseker dat geregtigheid in hierdie saak geskied.”

Die saak is tot 25 Januarie vir die ondersoek uitgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Harley Davidson ·

Het Afriforum nie beter dinge om te doen nie ,die lede wat die inkomste genereer word onderdruk deur ‘n rasistiese sisteem en word gereeld verbaal teen gediskrimineer. Ek stel voor julle vat ramaposa aan oor sy uitlatings oor wit minderhede en hang hom aan die groot klok sodat aal kan sien wie en wat hy is.

Anel ·

Hy is ‘n misdadiger. Maak sy naam bekend. Hoeveel ander vroue het hy nie dalk aangesteek nie? Want wat doen hy nou?

Manie ·

Die skuldige se naam weerhouding op grond van sy MIV status is dus belangriker as die slagoffer s’n wat deur hom besmet is? Siek.

Manie ·

Korrek Delia, dis net weer ‘n bewys dat oortreders meer regte as slagoffers het en dis ‘n wêreldwye siek tendens.

Delia ·

Ja dit is wêreldwyd. Ek lees oorsese koerante en daar word net so gekla

Frank John ·

Moord sê ek, as sy doodgaan van miv dan is dit moord, sy is klaar besig om daarvan dood te gaan want daar is geen mediese oplossing daarvoor nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.