‘Saamwerk’ al wat krag-wa deur drif gaan kry

sonkragpaneel-kernkrag-elektrisiteit

(Argieffoto: pixabay)

Dit is in die ganse Suid-Afrika se beste belang om die kragkrisis so gou moontlik op te los. Dr. Rethabile Melamu, uitvoerende hoof van die SA Fotovoltaïese Bedryfsvereniging (Sapvia), waarsku egter ʼn probleem wat nou al meer as ʼn dekade lank duur, gaan nie binne ʼn jaar opgelos word nie.

Melamu was vandeesweek een van die sprekers by Son SA se energiekonferensie in Pretoria waar kragkenners byeen gekom het om die beste moontlike oplossings vir energiesekerheid op die tafel te sit.

“Ek dink nie beurtkrag gaan binne ʼn jaar of twee iets van die verlede wees nie, maar dit kan beslis binne drie of vier jaar wees. Mits almal saamwerk,” sê sy.

Tommy Garner, voorsitter van die Vereniging van Onafhanklike Kragprodusente van Suid-Afrika, stem saam dat geen enkele organisasie of oplossing op sy eie die knoop gaan deurhak nie.

Hy sê niemand het vantevore geglo daar is ʼn werklike kans dat Eskom ineen gaan stort nie. Waarskuwings word egter al meer as ʼn dekade lank gerig, met onafhanklike kragprodusente wat voortdurend hieroor stilgemaak is.

“Die regering was op soek na ʼn gesentraliseerde Eskom, een wat “hy kan melk”. Dit is ʼn politieke en ideologiese probleem, wat beteken dat organisasies nou op hul eie die kragprobleem moet probeer oplos omdat die regering dit nie gaan doen nie.”

Hy sê die private sektor moet sterk genoeg wees om te bly staan wanneer die staatsdiens omval, sodat ons steeds kan aangaan – en hiervoor is samewerking ongelooflik belangrik.

Hy verwys na verskeie plaaslike munisipaliteite wat besig is om ineen te stort, of reeds ineengestort het, maar nie vra vir hulp of dit selfs nie aanvaar nie wanneer dit aangebied word.

By ʼn Oos-Kaapse munisipaliteit (met die grootste distribusienetwerk landwyd benewens dié van Eskom) is die kragnetwerk letterlik besig om om te val, sê Garner. Diere soos kameelperde en beeste lê vrek langs die platgetrekte kraglyne. Boere sit weke lank sonder krag en iets soos ʼn melkery moet met ʼn dieselaangedrewe kragopwekker aan die gang gehou word.

“Ons werk al die afgelope jaar saam met die munisipaliteit. Ons wíl help, maar ons sukkel om deur die grense te breek; dit is asof daar geen manier is om deur te dring nie,” sê Garner.

Gesprekke met organisasies soos die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) en die departement van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) kon ook nog nie enige ingryping laat gebeur nie.

“Boere, indiensnemings, kraginkomste… alles is besig om te vergaan, maar die munisipaliteit reik nie uit nie,” sê Garner.

Dit is tekenend van ʼn breër probleem. Hoekom is die netwerk nie vantevore al uitgebrei nie, vra Garner. “Dit spreek van wat ons is Mpumalanga sien; beweerde kartelle en vingers in die beursie.

Sommige amptenare klou aan beheer vas – al stort die netwerk om hulle ineen – omdat dit hulle toegang tot die geldkoffers gee.”

Moenie volhoubaarheid vergeet

James Mackay, uitvoerende hoof van die Energieraad van Suid-Afrika, sê Suid-Afrika is reeds sy energiesekerheid kwyt, maar in pogings om dit te herwin mag volhoubaarheid nie uit die oog verloor word nie.

Bekostigbaarheid, energiesekerheid en volhoubaarheid – waarna Mackay as die “tri-lemma” verwys – moet dus gebalanseer word. As dit nié gedoen word nie, gaan die finansiële en maatskaplike tekort later só groot wees “dat ons regtig in groot moeilikheid is”.

Mackay sê nou is die tyd om prakties te wees. “In die landboubedryf is daar dadelik ʼn uitwerking: as jy vanjaar ʼn oes verloor, is die impak op voedselsekerheid ook onmiddellik. Ons moet dus rats wees en wegbeweeg van gesentraliseerde beheer en beplanning.”

Die staat – en die meeste plaaslike owerhede – is egter nie opgestel of in staat om na ʼn gedesentraliseerde en gedigitaliseerde energiestelsel oor te skakel nie – maar hulle móét volhoubaar en stabiel gemaak word.

Mackay sê Suid-Afrika is reeds sy energiesekerheid kwyt – teen ʼn enorme verlies – en moenie dieselfde pad met volhoubaarheid stap nie. Suid-Afrika sal met “ontkoling” moet begin, nie net omdat die land teen 2027 aan die sogenaamde koolstof-grensbelasting blootgestel gaan wees nie, maar ook om internasionaal mededingend te bly.

“Die risiko is nie die belasting nie, dit is die internasionale verbruikershandel wat groen wil koop. As ons nie daaraan voldoen nie, gaan ons uit die mark gesluit word.”

Hy sê Suid-Afrika benodig ʼn omvattende nasionale energievisie om met hierdie oorgang na volhoubare energiebronne te help.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, meen ook staatsentralisme hoort tot die verlede. Hy sê die kragoplossing lê in gemeenskappe en dorpe se vermoë om na hulself om te sien. Deur sentralisering kon Suid-Afrika jare gelede goedkoop en stabiele krag verseker en dit hét die ruggraat vir die industrialisering van die land geword het.

“Die onbedoelde gevolg is egter dat wanneer dinge verkeerd loop, dit verskriklik verkeerd loop.

“Ek hoef nie vir julle te sê dinge het verkeerd geloop nie.”

As sentralisme dus nie meer werk nie, moet daar na gemeenskapfederalisme gekyk word, sê Kriel.

“Federalisme van die grond af boontoe; gemeenskappe wat verantwoordelikheid neem sodat hulle besluite kan neem oor kwessies wat ʼn regstreekse uitwerking op hulle het,” sê Kriel.

Hy sê AfriForum kan ʼn rol speel om die netwerk te help oopstel sodat soveel moontlik mense toegang daartoe kan kry en al hoe meer mense met oplossings vir die kragkrisis vorendag kan kom.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.