Sakeman van Johannesburg ontvoer

João Avelino Marçal Francisco het die naweek verdwyn nadat hy glo ontvoer is. (Foto: Verskaf)

Daar is steeds geen teken van ʼn Johannesburgse sakeman wat Saterdag in Rosettenville, Johannesburg, glo ontvoer is nie.

João Avelino Marçal Francisco het sy slaghuis en vrugte-en-groentewinkel Saterdag omstreeks 19:00 verlaat. Naby die perseel is sy vragmotor voorgekeer, die venster gebreek en Francisco is na bewering ontvoer.

Die private ondersoeker Mike Bolhuis wat help in die soektog, sê Francisco se familie is later gekontak om ʼn losprys te betaal.

Weens die sensitiewe aard van die ondersoek wou Bolhuis nie in hierdie stadium veel besonderhede bekend maak nie. Die private ondersoekspan werk wel saam met die polisie om Francisco se vrylating te help bewerkstellig.

Die private ondersoeker het mense gemaan om ekstra waaksaam te wees, veral wanneer hulle snags ry. “Pas op vir te veel roetine en bly op en wakker.”

Hy stel voor dat geliefdes ten alle tye in verbinding met mekaar bly en mekaar laat weet waar hulle wanneer gaan wees. Bolhuis sê ʼn opsporings-app op jou foon kan ook in ʼn noodsituasie help.

Hy raai mense ook aan om nie aandag te trek met items soos duur juwele nie en versigtig te wees met hoeveel inligting jy dalk onwetend aan mense bekend maak.

“Moenie dink dit kan nie met jou gebeur nie. Jy moet altyd ʼn vorm van positiewe paranoia toepas.”

Bolhuis sê indien jy wel gegryp word, is sy raad om van jou selfoon ontslae te raak. Die boosdoeners gaan die foon ieder geval ontdek en het dan toegang tot veel meer van jou persoonlike inligting.

“Gee jou volle samewerking. Boewe heg vandag geen waarde aan ʼn lewe nie. Daar is baie wapens in die gemeenskap en misdadigers skroom nie om te skiet nie.”

Hy sê dit is ook raadsaam om in behoorlike veiligheidstelsels te belê. “Mense sal ingrypende stappe moet begin doen om hul veiligheid te verseker.”

Bolhuis sê daar is verskeie vorms van ontvoering. Volgens hom is die algemeenste wanneer ʼn ouer ʼn kind of kinders teenstydig met ʼn hofbevel of ooreenkoms uit ʼn ander ouer se sorg neem en die kinders nie weer terugbring nie. In ander gevalle word ʼn welaf slagoffer ontvoer en vir ʼn losprys aangehou, of sakelui word gegryp en aangehou totdat die geld vir hulle vrylating betaal word.

Ander gevalle is wanneer ʼn kind ontvoer word en byvoorbeeld in die sekshandel beland.

“Boewe is ongelukkig oral en altyd op die uitkyk vir enige geleentheid,” sê Bolhuis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Di ·

Hierdie onvoerings gebeur baie, ons hoor net nie van elkeen nie – Veral ryk sakemanne. Rukkie terug iewers gelees dat daar ‘n sindikaat is wat hierdie ontvoerings deeglik beplan. Indien losprys nie betaal word nie, word die gesinslede se lewens ook bedreig.

Elinette ·

Ag wat, gelukkig stel niemand daarin belang om mý te ontvoer nie.

Cecilia ·

Is dit d kerr rerig of gaan hy ook oor n paar dae weer te voorskyn kom?
Eks nie ongevoelig nie maar te veel mense “verdwyn” of word “ontvoer” en dan paar dae ltr kom hul te voorskyn met verskonings!

Marcello ·

Dit is nie net in Jhb. nie, dit is orals in SA, die platteland is net so erg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.