Sakesektor, regering wil probleme saam pak

Die Johannesburgse middestad. (Foto: Tebogo Iosaba/Unsplash)

Verskeie groot sakeondernemings het vandeesweek met die regering vergader om struikelblokke wat inklusiewe ekonomiese groei en werkskepping knou, saam te pak.

Fokuspunte wat Dinsdag by dié vergadering geïdentifiseer is, sluit in energie, vervoer en logistiek, asook misdaad en korrupsie.

Luidens ’n gesamentlike verklaring deur die regering en Business for South Africa (B4SA) sal verskeie staatsdepartemente in samewerking met verskeie uitvoerende hoofde onder B4SA duidelike inisiatiewe van stapel stuur, wat onder meer deur strukture soos die nasionale energiekrisiskomitee (Necom), die nasionale logistiekekrisiskomitee (NLCC) en die gesamentlike inisiatief om misdaad en korrupsie te beveg (JICC) uitgevoer sal word.

’n Gesamentlike strategiese bedryfskomitee sal ’n oorsigrol uitoefen.

Wat energie betref, sal daar gewerk word om beurtkrag te beëindig en die tekort aan kapasiteit op die kragnetwerk te verminder.

Die vennootskap wil verder ook die bedryfsvermoë en operasionale prestasie van die vervoer- en logistiekebedryf bevorder. Dit sluit in die aanwending van hulpbronne uit die private sektor om regeringsplanne te versnel.

Kundige hulpbronne uit die private sektor sal ook aangewend word om korrupsie en misdaad te help beveg, en onder meer ingespan word om die Nasionale Vervolgingsgesag en ondersoekdirektoraat te versterk.

Die regering sê hierdie inisiatief bou voort op die sukses van vorige samewerking soos tydens die Covid 19-pandemie, waar die regering en sakeondernemings onder meer saamgewerk het om entstofprogramme landwyd uit te rol.

“Hierdie inisiatief sal ’n werklike en merkbare verskil in die herbou van ons ekonomie maak en dit op koers vir volgehoue, ​​inklusiewe groei kry,” sê pres. Cyril Ramaphosa.

“Dit word gedryf deur ’n gedeelde vasberadenheid om die ernstige uitdagings wat ons tans in die gesig staar te oorkom en om die land se hulpbronne en vermoëns te mobiliseer om daardie doelwit te bereik. Ons verwelkom hierdie verbintenis van sakeondernemings en onderneem as regering om te werk om die sukses van hierdie vennootskap te verseker.”

Adrian Gore, visepresident van Business Unity South Africa (Busa), sê Suid-Afrika het baie potensiaal wat nog nie ontgin is nie.

“Hierdie vennootskap bevestig sakeondernemings se vertroue in ons land en dui op die verbintenis om volhoubare en inklusiewe ekonomiese groei te bereik.

“Ons glo deur vennootskappe en gefokusde ingrypings kan ons ’n merkbare en positiewe verskil in die land maak en hoop vir alle Suid-Afrikaners skep.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Shakespeare ·

‘n Goeie plan. Haal net die regering uit die som uit, dan sal dit werk.

Amelia ·

Alle suid afrikaners sal weer hoop kan skep nie vir die wat weet nie nie met ras kwitas nie nie met bbe en al die ander wette nie

Republikein in die Wes Kaap ·

Hierdie berig maak my ietwat ongemaklik. Big business het hul eie agenda en strategiese doelwitte. Die motiewe en belange van aandeelhouers is soms duister. Wanneer die sakesektor korrupsie en misdaad help beveg en by die Nasionale Vervolgingsgesag en ondersoekdirektoraat betrokke raak begin die gevaarligte flikker. Gesprekke in korporatiewe raadsale is alles behalwe welsyn.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.