SAL begin soek na nuwe hoof

Vuyani Jarana. Foto: ANA.

Die SAL het gesê hy sal onmiddellik met die proses begin om ʼn nuwe uitvoerende hoof te soek nadat Vuyani Jarana bedank het.

Die SAL se raad het Jarana se bedanking aanvaar, het JM Magwaza, voorsitter van die SAL, in ʼn verklaring gesê.

“Ek wil namens die raad vir mnr. Jarana bedank vir sy diens en toewyding tot die lugdiens. Hy het daartoe bygedra om vertroue in en die geloofwaardigheid van die lugdiens te probeer herstel. Ons wens hom alle sukses toe met sy toekomstige planne.”

Volgens Magwaza sal die lugdiens voortgaan om maatreëls te implementeer ten einde die SAL se kostestruktuur te verbeter en om die lugdiens plaaslik en internasionaal meer kompeterend te maak.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het vroeër gesê Jarana se bedanking is ʼn groot terugslag vir die lugdiens.

Die SAL is nou opgestel om finaal te misluk, het Hermann gesê. “Die enigste kans [op oorlewing] vir die lugredery is indien dit uit die hande van sy aandeelhouer gehaal word. Dit lyk al meer of die enigste opsie wat oor is, is om weer te kyk na ʼn sakereddingsaansoek. Daar het nou net soveel water in die see geloop dat selfs sakeredding dalk nie die sukkelende SAL sal kan red nie en die staat kan SAL nie meer bekostig nie.”

Maroela Media het vroeër berig Jarana het in sy bedankingsbrief harde woorde gehad oor die situasie by dié sukkelende staatsbeheerde instelling.

Jarana, wat in November 2017 as uitvoerende hoof by die lugdiens begin het, voer in die brief aan daar was sedert verlede jaar tot nou minstens drie gevalle waar die lugdiens amper nie salarisse kon betaal nie weens ʼn gebrek aan geld en dat hy die meeste van sy tyd moes afstaan aan kwessies van likiditeit en solvensie.

“Die gebrek aan verbintenis om SAL te finansier is besig om stelselmatig die implementering van die omkeerstrategie te ondermyn, wat dit al hoe moeiliker maak om te slaag,” voer Jarana aan.

Hy wys daarop dat die spoed van besluitneming ʼn groot rede tot kommer is aangesien dit onmoontlik is om die omkeerstrategie te bewerkstellig met die huidige vlakke van burokrasie om strategie te implementeer.

Volgens Jarana maak die werkwyses tussen die uitvoerende bestuur, die raad en die minister dit moeilik om met die nodige spoed en behendigheid te werk en word die lyne van aanspreeklikheid al hoe vaer.

Hy voer verder aan dat vertrouevlakke laag is en dat hy nie langer kan waarborg dat die omkeerstrategie bereikbaar is nie. “60% van SAL se probleme is intern terwyl 40% markuitdagings is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Diefie ·

Vuyani dit is hartseer om jou te sien gaan. Nou wat kan die regering en sy mense nog plunder van SAL?

AndreL ·

Waar doen ek aansoek? Ek kan daai plek sink amper net so vinnig soos enige kader.

SjN ·

SAL hoef nie te soek nie, stel net die regte mens aan, daar is baie gekwalifiseerde persone met jare se ondervinding wat die job kan en wil doen, kyk asb net verby kleur.

Susan ·

Privatiseer SAL weer, laat die Staat hulle vingers uit die rekening haal, dan sal die plek weer floreer soos in die verlede!!

Wonder maar net ·

So jammer om te hoor jy gaan ook nou Vuyani, en jammer oor die min samenwerking wat jy gekry het, jy het jou beste probeer, ek salueert jou xx

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.