SA’ners beleef verwoesting, wanhoop in Malawi

Groot dele van Malawi is heeltemal verspoel. (Foto: Verskaf)

Verwoesting, wanhoop, siekte, hongersnood en krokodille.

Dít is maar van die tonele waarmee Suid-Afrikaanse reddingswerkers begroet is toe hulle op 16 Maart in Malawi geland het.

Byna ʼn halfmiljoen mense is ontheem nadat tropiese sikloon Freddy dié land vir ʼn tweede keer in ʼn kort tyd getref het. Die dodetal staan tans op nagenoeg 500 mense terwyl honderde nog vermis word.

In Mosambiek het die storm tot meer as 60 sterftes gelei en 49 000 mense dakloos gelaat.

Die reddingspan van Suid-Afrika. (Foto: Verskaf)

Reddingswerkers van Suid-Afrika was vir vyf dae in Malawi om mense te red waar moontlik en om “orde in die chaos” te skep. Die span het onder andere uit lede van die Gautengse nooddienste, Rescue South Africa en behoefte-assessors van die Universiteit van Johannesburg en die Nelson Mandela Universiteit bestaan.

Dié span is saam met die Al-Imdaad-stigting,  ʼn humanitêre organisasie, na Blantyre gestuur om hulp te verleen en het op 21 Maart na Suid-Afrika teruggekeer.

Ian Scher, uitvoerende hoof van Rescue SA, het aan Maroela Media gesê die span was daar om mense te red, gestrande mense na hoër gebiede te neem en eindelik weer ʼn mate van orde te probeer skep waar mense alles verloor het.

Scher sê inwoners sou voor die sikloon binnekort begin oes, maar sal nou van voor af moet begin plant.

Inwoners van Malawi wag op kos en medisyne. (Foto: Verskaf)

“Hulle het niks nie. Hulle sal seker vir die volgende jaar nog hulp benodig. Hulle het onder meer sade nodig om te plant. Daar lê nog baie werk voor.

“Hulle het in dié stadium nie eens potte en panne om kos voor te berei nie. Al wat hulle het, is die klere aan hul lywe. Hulle is honger, hulle is siek.”

JP von Benecke, adjunkdirekteur van die Gautengse nooddienste, was een van vyf lede van dié nooddienste wat deel van die span in Malawi was. Hoewel die span uit opgeleide, professionele mense bestaan wat al baie seer en verwoesting gesien het, sê Von Benecke dit is steeds moeilik om soveel swaarkry te sien.

Groot dele van Malawi is heeltemal verspoel. (Foto: Verskaf)

“ʼn Mens voel hopeloos. Byna die hele suide en ooste van die land is net water. Alles het verspoel – hul huise, geboue, brûe, diere en landerye.”

Hy sê krokodille is ook volop, wat reddingspogings verder bemoeilik.

“In Suid-Afrika kan jy darem nog rivierlangs stap en in riviere soek – daar kan jy dit nie waag nie en mense kan nie regtig op rivierbanke staan nie. Ons moes alles met helikopters doen. Plek-plek kon ons ry, maar net tot op ʼn sekere punt,” het Von Benecke vertel.

’n Suid-Afrikaanse reddingspan was van 16 Maart tot 21 Maart in Malawi om bystand te verleen. (Foto: Verskaf)

Hy sê die span se hoofdoel was om ʼn Britse reddingspan by te staan – onder meer met die oprig van ʼn kamp waar hulle dan ook met bote op die water kon uitvaar. Daarna kon hulle medikasie en kos (soos sojabone en mieliemeel) aan behoeftige slagoffers neem en pasiënte by hospitale en plekke oplaai wat heeltemal afgesny is.

Von Benecke verduidelik dat tientalle mense gestrand was, onder wie gesondheidswerkers soos dokters en verpleegsters wat nie by hospitale kon uitkom om hulp te verleen of skofte met ander gesondheidswerkers te ruil nie.

AFP berig dat soek-en-reddingsoperasies steeds voortduur en dat 500 noodskuilings tot dusver opgerig is.

Die Verenigde Nasies se Internasionale Organisasie vir Migrasie sê die grootste nood bly in dié stadium skuiling, kos, medisyne, skoon water, sanitasie en beskerming.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.