SA’ners meer depressief as ander wêreldburgers

Foto: Nik Shuliahin/Unsplash

Die helfte van Suid-Afrikaners wat toegang tot die internet het, het gesê hulle moes die afgelope jaar tyd van werk afvat weens spanning.

Sewe uit elke tien Suid-Afrikaners het boonop gesê spanning het hul lewens die afgelope twee jaar tot so ʼn mate geaffekteer dat hulle nie meer alles kon hanteer nie.

Dié syfers is baie laer vir inwoners van 30 ander lande in die wêreld wat deelgeneem het aan ʼn Ipsos-peiling oor geestesgesondheid.

Suid-Afrika en Brasilië is die twee lande waar die meeste mense (75%) aangedui het dat hulle gedurig aan hulle geestelike welstand dink. Dit is baie meer as die wêreldgemiddeld van 58%.

Altesaam 67% van Suid-Afrikaners het gesê hulle voel tot so ʼn mate depressief dat hulle soms vir weke aaneen hartseer en hopeloos voel, teenoor 52% van mense wêreldwyd. Die helfte kon nie werk toe gaan vir ʼn tyd lank nie omdat hulle te veel spanning ervaar het, teenoor net ʼn derde (32%) wêreldwyd.

“Ten spyte van die feit dat Suid-Afrikaners ongelooflike veerkragtigheid ten toon stel te midde van verskeie en deurlopende uitdagings, is uiterste spanning ʼn algemene ervaring,” lui Ipsos se verslag.

Altesaam 39% van Suid-Afrikaners meen geestesgesondheid is die grootste gesondheidsuitdaging wat deur inwoners van hul land in die gesig gestaar word, ʼn toename van 23 persentasiepunte sedert 2018. Dit is weer eens hoër as die wêreldwye gemiddeld, wat wys dat 24% van die wêreldbevolking meen geestesgesondheid is die grootste gesondheidsuitdaging in hul betrokke land. Die wêreldwye gemiddeld in 2018 was 17%.

Suid-Afrikaners deel wel hul mede-wêreldburgers se siening dat geestesgesondheid net so belangrik is as fisieke welstand, maar meen fisieke gesondheid geniet baie meer aandag binne die gesondheidstelsel.

Luidens die uitslae van die peiling meen 77% van Suid-Afrikaners hul geestesgesondheid is net so belangrik soos hul fisieke gesondheid, omtrent net so veel soos die wêreldgemiddeld (78%).

Tog voel net ʼn derde (32%) van Suid-Afrikaners (34% wêreldwyd) dat geestes- en fisieke gesondheid dieselfde status in die land se gesondheidstelsel geniet.

Die lande waar die meeste deelnemers gesê het fisieke en geestesgesondheid ewe belangrik is, is Argentinië (88%), Colombië (87%) en Peru (87%).

Dit wil voorkom of geestesgesondheid net in vyf van die deelnemende lande ewe veel aandag as fisieke gesondheid geniet. Die lande is Maleisië (61%), Thailand (59%), Indonesië (55%), Indië (55%) en Singapoer (54%). Minder as ʼn kwart van deelnemers in Mexiko, Chili, Swede, Spanje, België en Argentinië meen geestesgesondheid kry soveel aandag soos fisieke gesondheid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

annie ·

Werkgewers wat self stres ervaar verplaas hul druk op werknemers en eis meer as ‘n pond vleis wat angs en tweespalt verhoog en negatief inwerk op produksie en winste.

Bolandse Nooi ·

Ja, jy moet 2-3 mense se werk doen vir dieselfde salaris en dan kry al die ander werknemers van die besigheid jaarlikse verhoging, maar die een wat die donkiewerk doen, kry in 2 jaar se tyd geen verhoging nie.

Pieter ·

O en moet nie vergeet van daardie aanstellings wat net vir Show is nie… Dus moet ons nog hulle werk ook doen…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.