SA’ners vang tweede grootste bloumarlyn ter wêreld

Die blou marlyn weeg sowat 621 kg (Foto: Ryan Williamson, Instagram)

Die wêreld kan maar met hul beste papgooipogings vorendag kom; Suid-Afrikaners weet beslis hoe om ’n vis te vang!

’n Groep Suid-Afrikaanse hengelaars is heel in hul skik nadat hulle die tweede grootste bloumarlyn in die Atlantiese Oseaan gevang het.

NDTV berig dié monsterbielie, wat sowat 621 kg weeg – dieselfde gewig as ’n volwasse beer – en sowat 3,7 m lank is, lyk soos iets uit ’n wetenskapfiksierolprent. Jy moet omtrent twee keer kyk om te sien dat dit wel ’n regte vis is.

Op 19 Mei, tydens ’n ses dae lange visvanguitstappie in die Kaap Verdiese Eilande, het drie vriende – Ben Vorster, Gerhardt Vorster en Michiel Ross, onder leiding van kapt. Ryan “Roo” Williamson – die bloumarlyn uit die diep see getrek. Die eilande vorm deel van die Makaronesiese streek aan die kus van Noordwes‑Afrika.

Net nadat dié knewel aan die lyn gebyt het, het die mans sowat 30 minute lank gespook om die vis in te katrol.

Met groot opwinding het die hengelaars die vis geweeg en hoewel dit groot was, het dit nie gekwalifiseer as die grootste vis wat nog in die Atlantiese Oseaan gevang is nie.

Dié marlyn het net sowat 14,5 kg tekortgeskiet van die IGFA All Tackle-wêreldrekordhouer – ’n monstervis van sowat 636 kg wat in 1992 in Brasilië gevang is.

Die manne was egter nie teleurgesteld nie en het in groot afwagting met die volgende deel van hul taak begin – om die vis skoon te maak.

Die vis het genoeg vleis om verskeie families in die gemeenskap vir weke te voed, berig Daily Star.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

May10 ·

So word ons oseane leeg gevang. Ek probeer verstaan hoe hierdie goed is, ongeveer 100 jaar terug sou jy altyd sulke groot goed gesien het, jy doen nie meer nie.Los die visse. Ons oseane is so ongesond en dan gaan mense en vang dit verder leeg! Hierdie is geen prestasie nie, en enige iemand kan maar kom stry!

Manie ·

Die wêreld se oseane word leeggevang (gestroop) deur kommersiële asiatiese vistreilers, nie deur hengelaars wat vir die rooster vang nie. Die groot vervoer skepe op die oseane is die grootste besoedelaars wat veroorsaak dat die see siek is, want etlike miljoene tonne afval materiaal word jaarliks eenvoudig net gestort.

Samuel ·

Beslis nie alle vragskepe stort hul afval in die see nie. Die meeste skepe het deesdae vermoë om afval aanboord te verbrand.

Samuel ·

Ja, ek wil kom stry. Dit is ‘n sportvis en dit is nie asof honderde gevang word nie.

Judy ·

Dis nie ons mense wat dit leeg vang as n sport nie dis die kommersiele bote wat dit leegvang. Jy weet beslis niks nie. Gaan kyk in die aande hoe le die kommersiele bote en suig die oseaan leeg. Dis erg hartseer. Hulle suig die riwwe op en die rif stukke spoel op die strande uit. Daaroor kan jy kerm en kla nie oor ons mense wat so gaan n vissie of 2 vang nie. Ons doen diepsee visvang en jy sal jou hande saamslaan as jy sien hoe lyk die see daar onder van alles wat opgesuig word. Dis nie ons wat die sondebokke is nie.

Burgermeester ·

Dit is een van daai berigte wat ‘n man na twee kante toe skeur. Aan die een kant is ek baie bly vir die manne wat so ‘n bielie van ‘n vis kon vang. Dit is voorwaardelik iets om oor te spog. Maar, … aan die anderkant is dit ook hartseer; die maritieme bronne word al hoe minder, so dit voel na ‘n groot verlies dat so ‘n prag-vis op iemand se muur gaan beland. Ten minste kan mense gevoed word met die vleis wat van die vangs af kom.
Voordat iemand my oor die kole haal: Ek weet niks van visvang af nie, ek sê maar net hoe ek voel.

Erich ·

Wat n skande dat die vis nie vrygelaat is nie. Dit is wat mense wat omgee vir die natuur sou gedoen het. Fotos sou net so goed gewees.

Mieke ·

Is dit dan nodig dat die vis vir mens se plesier sy lewe moet verloor? Neem’n foto en gooi die arme vis terug in die see…!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.