Sanitasiekrisis ‘amper by omkeerpunt verby’

Miljoene mense in Suid-Afrika maak steeds van emmers en putte gebruik omdat hulle nie toegang tot veilige toiletgeriewe en sanitasie het nie. (Foto: Adam le Sommer / Unsplash)

Sondag is Wêreldtoiletdag: ʼn Wêreldwye inisiatief wat daarop gemik is om bewustheid oor die belangrikheid van sanitasie te kweek en toegang tot skoon, veilige toilette voor te staan. Hierdie toilette is veronderstel om gesondheid, waardigheid en algehele welstand te bevorder.

Die toiletsituasie in Suid-Afrika is egter ʼn donker en onheilspellend.

Die burgerregte-organisasie AfriForum het vandeesweek sy blou-en-groendruppelverslag bekendgestel en onthul dat van die 140 getoetste rioolafvalwaterbehandelingswerke in Suid-Afrika ʼn skamele 19% aan die minimum standaarde voldoen.

ʼn Sensusopname wat onlangs in die land gedoen is, dui verder aan dat slegs 70,8% van die inwoners toegang tot spoeltoilette het, terwyl 2,6%  ʼn chemiese toilet gebruik. Ongeveer 9% van Suid-Afrikaners gebruik ʼn geventileerde puttoilet terwyl 12,5% steeds net toegang tot ʼn gewone puttoilet het. Verder maak 2,1% van die 17,8 miljoen huishoudings van emmers gebruik, terwyl 1,6% geen toegang tot enige vorm van ʼn toilet het nie.

Bronwyn Ragavan, handelsmerkbestuurder vir die higëneproduk *Organico, sê toegang tot skoon en veilige sanitasie is ʼn basiese mensereg wat waardigheid, gesondheid en higiëne bevorder.

“Dit is ook ʼn noodsaaklikheid om ʼn veilige en bevordelike leeromgewing te skep waar akademiese uitnemendheid behaal kan word.”

Ragavan verwys na ʼn voorval vroeër vanjaar waar ʼn vyfjarige leerder in ʼn puttoilet verdrink het, en sê dat die regering se onderneming om puttoilette teen 2025 as iets van die verlede te verklaar, bloot ʼn uitbreiding vorige leë beloftes is. Intussen word leerders voortdurend in gevaar gestel by skole waar puttoilette die norm is.

“Daar is ook ʼn groter kans op fisieke gevaar vir jonger kinders en ʼn verhoogde moontlikheid dat siektes deur besoedelde grondwater versprei word.

“Grondwater is die wêreld se grootste bron van vars water, wat drinkwatervoorrade, sanitasiestelsels, boerdery, nywerhede en ekosisteme ondersteun. Wanneer dit besoedel word, is daar ʼn domino-effek wat tot siektes, gebrek aan skoon drinkwater en die vernietiging van ekosisteme lei.”

Dr. Jo Barnes, senior lektor in die Departement Wêreldgesondheid aan die Universiteit Stellenbosch, stem saam dat die regering baie meer moet doen om  veilige toegang tot toiletgeriewe en skoon water te bevorder.

Sy sê hoewel sanitasie ʼn wêreldwye krisis is, is dit ʼn akute probleem in Suid-Afrika, wat in sommige gevalle al die omkeerpunt verbygesteek het.

Dit is boonop vir haar verstommend dat soveel mense in die land ʼn selfoon het, maar nie toegang tot ʼn toilet nie.

Barnes meen een van die groot probleme in Suid-Afrika is ʼn tekort aan behoorlike regeringsbestuur, begroting en verslagdoening. Sy vertrou ook nie die syfers van die regering se sensusopnames nie en sê daar waar die regering in statistieke aandui dat toegang tot toilette verbeter het, dit nie in ag neem of dit werkende toilette is nie.

“Onvoldoende sanitasie en gebrekkige riool- en waterstelsels het verreikende gevolge. Gebrekkige rioolstelsels lei tot besoedeling, wat weer tot ander siektes onder mense lei. Siektes lei weer tot werkloosheid omdat mense nie kan gaan werk nie en in baie gevalle hul werke verloor.

“Verder is water in sommige gebiede so besoedel dat dit die uitvoer van byvoorbeeld groente en vrugte verhoed en sodoende die ekonomie verder knou.

Volgens haar besoedel vuil waterbronne soos riviere uiteindelik ook die drinkwater van dorpe wat van daardie waterbronne afhanklik is.

Barnes sê daar is egter nie maklike oplossings vir die massiewe probleem op hande nie. Sy moedig die publiek aan om toenemend druk op die regering te plaas om sanitasie en toegang tot veilige water en toilette te prioritiseer – veral in aanloop tot die komende verkiesing.

“Dis nou die beste tyd om druk op politici te plaas en ook plaaslike politici te betrek.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.