SANParke-hoof afgedank ná aantygings

Fundisile Mketeni (Foto: SANparke-webtuiste)

Die uitvoerende hoof van SANParke, Fundisile Mketeni, is afgedank nadat verskeie aanklagte van aanranding in Mei 2021 by die Skukuza-polisie in die Krugerwildtuin teen hom aanhangig gemaak is.

Rey Thakhuli, woordvoerder van SANParke, sê die raad het in Julie 2021 met ʼn dissiplinêre proses teen Mketeni begin. ʼn Onafhanklike persoon het die dissiplinêre proses gelei.

Thakhuli sê die raad het op 1 Junie 2022 weer vergader oor die uitslag van die dissiplinêre proses en volgens die aanbeveling is Mketeni met onmiddellike effek afgedank.

Mketeni is skuldig bevind op ses van die sewe aanklagte wat teen hom aanhangig gemaak is en hy het die gedragskode van SANParke oortree.

Annerie Weber, die DA se lid van die parlementêre portefeuljekomitee oor omgewingsake, visserye en bosbou, sê ʼn jong vrou is in Mei 2021 aangerand toe sy Mketeni se toenadering verwerp het. Twee kollegas het glo by hom aangesluit en ook aan die aanranding deelgeneem.

“SANParke het onafhanklike prokureurs aangestel vir die interne dissiplinêre verhoor. Die arbeidshof maak dit duidelik dat seksuele teistering ʼn groot probleem in die werksplek is. Werkgewers het ʼn verantwoordelikheid om die werksplek ʼn veilige hawe te maak.”

Weber sê Mketeni is skuldig bevind op aanklag van seksuele teistering, aanranding, skeltaal, ʼn versuim om iemand aan te gee wat in gevaarlike omstandighede vermis geraak het en ʼn versuim om die voorval sonder versuim by sy hoofde aan te meld.

“Hulle het bevind dat Mketeni ook die naam van SANParke beledig en beskadig het – in die media en by belanghebbendes. Hulle het bepaal dat die vertrouensverhouding tussen die werkgewer en die werknemer skipbreuk gely het en dat onmiddellike afdanking ʼn behoorlike optrede is.”

Die twee kollegas wat na bewering ook by die aanranding betrokke was, wag nog vir die uitslag van hul dissiplinêre verhoor.

“Die DA veroordeel die gedrag van Mketeni en loof SANParke dat hulle dié ernstige kwessie aangeroer het. Die DA loof ook die jong vrou dat sy in dié geval opgestaan het en nie opgegee het nie. Sy is ʼn rolmodel en ʼn baken van hoop in die see van aanranding met die doel om ernstig te beseer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Harley Davidson ·

Ek wens ons het ons eie land gehad waar dinge net reg kan gedoen word hoekom word ons so gestraf?

Eden ·

Ons het gehad, maar Frikkie het dit weggegee en al die omies wou rugby en krieket kyk.

Delia ·

Integriteit skop jy nie agter elke bos uit nie. Wonder wat sy kwalifikasies is in die hoë pos.

Christine ·

En ook ‘n morele kode en etiese waardes. Dis iets wat sommiges wragtig heeltemal ontbreek.

Di ·

Hy was seker weer ‘n kader aanstelling! Sy gesig spreek boekdele

Anette ·

Disiplinere proses het Julie 2921 begin. Ek dink hy moet die salaris wat hy vanaf Julie 2021 tot dag van afdanking gekry het, terugbetaal. …..

Moedeloos ·

Ongelukkig nie- hy was seker geskors met volle voordele. Is eers skuldig as jy skuldig bevind word. Kan net nie dink dat n saak solank gesloer het nie.

Jacoba ·

Wonderlik dat Topbestuur uitsorteer word. Parke se geboue is in ‘n toestand. Alles gaan agteruit. Hoop daar word drasties aandag gegee aan SANParke. Buitelanders moet dink ons is ‘n “sif” klomp mense in SA. Die diere maak darem op vir alles wat negatief is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.