SAOG-lidlande vergader oor listeriose

Dr. Aaron Motsoaledi. Foto: Flickr/GovernmentZA

Aaron Motsoaledi, die minister van gesondheid, het in sy hoedanigheid as voorsitter van die Suider Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) se ministers van gesondheid ʼn buitengewone vergadering belê om sy eweknieë toe te spreek oor die uitbreking van listeriose in die land en wat gedoen word om dit te beheer.

Die SAOG-lidlande is Angola, Botswana, die Demokratiese Republiek van die Kongo, Lesotho, Madagaskar, Malawi, Mauritius, Mosambiek, Namibië, die Seychelle, Suid-Afrika, Swaziland, Tanzanië, Zambië en Zimbabwe.

Popo Maja, Motsoaledi se woordvoerder, het Donderdag in ʼn kort verklaring gesê ná afloop van die vergadering sal ʼn plan van aksie aangekondig word om die uitbreking van listeriose in die SAOG-streek te beperk.

Dié vergadering sal ook aandag skenk aan wyses waarop oorgrens-uitbrekings van listeriose verhoed kan word.

Volgens berigte het meer as 900 mense in Suid-Afrika sedert Januarie listeriose opgedoen. Die siekte word veroorsaak deur bakterie wat vars kos, veral vleis, kan besmet. Minstens 183 mense het al aan listeriose gesterf.

Namibië het Dinsdag die land se eerste geval van listeriose aangemeld sedert die uitbreking in Suid-Afrika. ʼn 41-jarige man word tans in Windhoek behandel. Namibië en ander buurlande het intussen die invoer van verwerkte vleis vanaf Suid-Afrika verbied.

Vroeër vandeesmaand het Suid-Afrika se departement van gesondheid verwerkte vleisprodukte onttrek nadat die dodelike bakterie in die Enterprise-fabriek in Polokwane en Germiston aangetref is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Johann ·

HEMELE BEHOEDE ONS teen n Afrika…. nee SUID AFRIKA plan om hierdie en ander siektes en peste te bestuur! Want as Aaron en sy Departement se geskiedenis en huidige katastrofes van onbevoegde lukraak gewetenlose misdrywe in ag geneem word, is ons voorland al wat n veronderstelde uitgeroeide pes is, terug uit die donker eeue!

Casper Labuschagne ·

In die Noord Vrystaat is daar ‘n bakterie genoem bruselose wat deur die Brucella bakterie veroorsaak word. Die bakterie kom klaarblyklik in die grond voor en veelvuldige skielike infeksies kom voor onder beeste en veral honde met ‘n geweldige hoë sterftesyfer binne enkele dae, onder besmette diere. Ek het al verskeie uitbrake meegemaak en het opgemerk dat dit voorkom op die warmste deel van die jaar, sodra dit reën en dat nuwe infeksies voorkom vir so lank as wat warm nat toestande voortduur en dat dit weer heeltemal verdwyn sodra dit droog word, of wanneer dit goed koud word en ryp voorkom. Alles wat ek oor listeriose oplees laat my dink aan bruselose van die voorkoms van die infeksie tot die simptome daarvan.

Ek sou nie verbaas wees as die probleem nie die verwerkingsproses van vleis is wat tans die skuld kry nie, maar dat enkele karkasse self besmet is.

Terloops die boereraad vir bruselose wat meer effektief is as die peperduur medisyne waar die diere in elk geval net vrek, is om louwarm rooibostee gemeng met heuning vir die geïnfekteerde diere te voer. Bees of hond, hulle drom saam om dit te drink en word binne ‘n kort tydjie beter.

Alida ·

Ek hoop hy het die vrymoedigheid om al die lede van die SAOG op ‘n onbeplande toer deur al sy hospitale te vat. Dit help nie hy bespreek ‘n inspeksie met die hospitale nie want dan gaan hulle spring om skoon te maak. Vat hulle Limpopo se hospitale toe sommer na ALMAL toe. Sommer na ons staatslykshuise toe ook. Hulle sal baie vinnig vir hom 1000’e soorte siektes kan opnoem wat hier uitbroei.

marous ·

Vergader vergader want die kos en die drank en die partytjies is nader . Waarom vergader hulle nie op ‘n vlot op die Vaalrivier en gaan swem en drink sommer van die pragtige skoon water sommer bakhand nie?

Alida ·

Hy moet al daardie afgevaardigdes na die publiek toe bring dan sal ons vir hulle vertel wat hier aan die gang is en gaan wys hoe morsig is sy departement se onderskeie afdelings. Mnr Aaron gaan hulle net weer heuning om die mond smeer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.