SAPD verkwis miljoene tydens Brics-beraad

Die Brics-beraad wat in Augustus 2023 in Johannesburg plaasgevind het (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Die Demokratiese Alliansie is woedend dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) R75 miljoen bestee het om afgevaardigdes van die drie dag lange Brics-beraad te beskerm, terwyl gewone Suid-Afrikaners moord, verkragting, roof, ontvoering en mensehandel vir 365 dae van die jaar moet verduur.

Altesaam 5 234 SAPD-lede is ook tydens die beraad ontplooi en 726 SAPD-voertuie is benut.

Die gebruik van buitensporige polisiehulpbronne wat gerig is op die beveiliging van die Brics-beraad is onthul in ʼn parlementêre antwoord van polisieminister Bheki Cele. Dit kom net dae ná die 2023 Global Organized Crime Index (Goci) bekendgemaak het dat Suid-Afrika nou die sewende plek uit 193 lande beklee vir mafia-agtige kriminele netwerke en georganiseerde misdaadsindikate.

“Cele en die ANC-regering se bereidwilligheid om so maklik afstand te doen van die beskerming van gewone burgers en eerder die gebrekkige polisiediens te omskep in ʼn BBP-beskermingsdiens vir afgevaardigdes van lande wat onder andere mafiastate insluit, is ʼn direkte aanduiding vir die absolute verontagsaming van die ANC vir die veiligheid en beskerming van Suid-Afrikaners,” sê Delmaine Christians, lid van die nasionale raad van provinsies.

Uitgawes van die land se polisiëringsbegroting aan die beraad sal nie net ʼn baie klein ekonomiese voordeel vir die land inhou nie, maar waarskynlik ook onstabiliteit en veiligheidskwessies vererger, gegewe die verdere uitbreiding van Brics in outoritêre lande met ʼn geneigdheid om buite internasionaal gevestigde wet en orde op te tree, voeg Christians by. “Solank as wat die ANC aan bewind bly, sal die prioritisering van georganiseerde internasionale netwerke ons demokrasie en ons veiligheid bly bedreig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Johann ·

Lekker as jy belasting geld kan uitgee om jou kamerade se despote te beskerm. Net nog ‘n blatante ANC vergryp waar van NIKS gaan kom nie.

annie ·

Die DA het die situasie van angs help skep wat die polisie tot oorreaksie gedryf het. John glo die VSA se ‘magtige’ hand staan agter hom met Biden as grootkop. Die DA probeer van onder af regeer. Meer skade volg op so ‘n oorskatting.

Marthinus W ·

Die Brics-beraad het bestaan uit die staatshoofde van twee van die kragtigste lande op aarde tans: China en Indie. (Sowel as die staatshoofde van ander lande) Dit is SA se plig onder internasionale reg, en as verantwoordelike land, om hierdie staatshoofde te beskerm. Indien een van hulle iets sou oorkom – sterf, of aangeval deur misdadigers – sou SA aangekla wees as n onbevoegde land, wat beleggings sou benadeel.

Hierdie reaksie van die DA is net meer rede vir my om nie vir hulle in die volgende verkiesing te stem nie. Hulle dink soos kinders.

Di ·

Wat MEER kan jy verwag van die spul? Hulle spandeer geld asof dit ‘n eindelose put is. Intussen krepeer ons almal onder hulle sotlike besluite wat ons belasting betalers biljoene kos. Ons land is hoeka op “Auto Pilot” maar hulle gaan steeds aan of daar geen tekort is aan geld nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.