SAUK-nuushoof se afdanking dalk politieke druk?

Phathiswa Magopeni, die SAUK se nuushoof, is Vrydag afgedank. (Foto: Facebook)

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef) het die afdanking van die SAUK se groephoof van nuus en hoofredakteur, Phathiswa Magopeni, as “onbillik” bestempel, terwyl die DA meen dit is geen verrassing nie te midde van kommerwekkende tekens dat daar opnuut probeer word om die SAUK te kaap.

Magopeni is Vrydag afgedank nadat ʼn dissiplinêre tugverhoor, gelei deur adv. Nazeer Cassi, haar aan wangedrag skuldig bevind het en die SAUK-raad opdrag gegee het om haar ʼn gepaste straf op te lê.

Die verhoor het verband gehou met die foutiewe uitsaai van ʼn episode van die program Special Assignment.

Zakhele Mbhele, die DA se woordvoerder oor kommunikasie en digitale tegnologie, sê opmerkings verlede jaar deur Jessie Duarte, die ANC se waarnemende sekretaris-generaal, en dié van Fikile Mbalula, minister van vervoer en die ANC se verkiesingshoof, dat die SAUK die skuld moet kry vir die ANC se vrotsige vertoning in die 2021-verkiesing, was ʼn aanduiding dat moeilikheid op pad is.

Mbhele sê die DA het sedert Desember dopgehou hoe die tugproses teen Magopeni ontvou – ʼn proses wat waarnemers eenparig bestempel het as ʼn poging om die SAUK opnuut te kaap.

Magopeni voer ook aan die tugstappe teen haar is die gevolg van politieke inmenging nadat Mbalula teen die openbare uitsaaier oor sy verkiesingsdekking uitgevaar het.

Sanef sê Magopeni se afdanking kom voor ʼn paneel oor ernstige aanklagte teen Madoda Mxakwe, die SAUK se uitvoerende hoof, en voorsitter Bongumusa Makhathini kon beslis. Hulle word daarvan beskuldig dat hulle ingemeng het met die redaksionele onafhanklikheid van die SAUK deur Magopeni te dwing om onderhoude met pres. Cyril Ramaphosa tydens verlede jaar se veldtogte voor die munisipale verkiesing, op te stel.

Magopeni hou vol haar afdanking is die regstreekse gevolg van haar weiering om dié instruksies te aanvaar.

Sanef sê die proses wat die SAUK gevolg het, maak ʼn bespotting van arbeidswetgewing, lei tot wantroue in openbare instellings en ontneem die openbare uitsaaier van sy vryheid wat in die Grondwet gewaarborg word.

Die organisasie sê ʼn ruimte waar mense afgedank kan word ná politieke inmenging lei tot selfsensorskap en ontneem joernaliste en ander mediawerkers van die vryheid wat hulle nodig het om hul werk te doen.

“Die SAUK het Magopeni onbillik behandel.

“Die SAUK se bestuur en raad het, sedert die aankondiging om Magopeni aan te kla gedoen is, op ʼn  twyfelagtige manier opgetree wat nie net ontmoedigend is nie, maar ook ʼn negatiewe uitwerking op die goeie naam van die openbare uitsaaier gehad het.

“Dit is ongelukkig dat die vooruitgang wat die afgelope paar jaar gemaak is sedert Magopeni leierskap van die nuusspan oorgeneem het, ongedaan gemaak word deur ʼn bestuurspan wat wil sien dat die nuusafdeling uitmekaar val met duidelik politieke invloed van die ANC.”

Sanef sê die SAUK se nuusafdeling moet hom teësit teen doelbewuste ANC-propaganda.

Mbhele sê intussen hoewel die SAUK-raad vantevore oor sy onafhanklikheid gewaak het, lyk dit of dié houding nou laat vaar is. “Die verwikkeling bring ook bewyse na vore oor beweerde verdeeldheid in die SAUK-raad.”

Die DA gaan die voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor kommunikasie en digitale tegnologie, Boyce Maneli, vra dat die SAUK se raad en senior bestuur so gou moontlik Magopeni se afdanking kom verduidelik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Nie Verbaas ·

Die 2021 vrotsige vertoning van ANC in verkiesing is as gevolg van totale onbevoegdheid, korrupsie en diefstal en nie as gevolg van die SAUK nie. Geen instansie kan die ANC laat goed lyk nie. Dit is totaal onmoontlik.

Heinrich ·

Ag sies tog, die ANC sal nooit ophou struggle om te probeer om reg op te tree nie…kan nie hulself help nie want jy kan nie ‘n vark uit die modder uithou nie.

Misky ·

Nuus is veronderstel om onpartydig te wees. ANC werk nou al 30 jaar aan hulle eie ondergang.

KB ·

As Duarte en Mbalula enigiets kwytraak, dan weet jy dis blatante leuens. Wie steur hulle nog aan die twee?!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.