SAUK: Ramaphosa gewoond om ‘onwettig’ in te meng – DA

Pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Volgens die regsmening van ʼn advokaat het pres. Cyril Ramaphosa onregmatig opgetree deur nie die raad van die SAUK aan te stel nie.

Adv. Sesi Baloyi SC het Donderdag die mening aan lede van ʼn subkomitee van die parlementêre portefeuljekomitee oor kommunikasie voorgelê.

Dianne Kohler Barnard, die DA se woordvoerder oor kommunikasie, sê dit is duidelik dat Ramaphosa, as voormalige voorsitter van die ANC se kaderontplooiingskomitee, “gewoond daaraan geraak het om onwettig in aanstellingsprosesse in te meng”.

Die SAUK sit al vyf maande lank sonder ʼn raad, verloor steeds geld en het geen oorsig deur ʼn raad nie, sê Kohler Barnard.

Die komitee het die buitengewone stap gedoen om vir nóg ʼn regsmening te vra, selfs al het ʼn parlementêre regsadviseur deur die hele proses om onderhoude met kandidate te doen, ʼn kortlys saam te stel en daarna ʼn uiteindelike lys, seker gemaak elke stap in die proses is regmatig.

“Pres. Ramaphosa het in die eerste plek die raadsaanstellings weke lank vertraag nadat die nasionale vergadering die raad, soos saamgestel deur die portefeuljekomitee, eenparig goedgekeur het,” sê Kohler Barnard.

“Hy het daarna voortgegaan om die aanstelling te vertraag deur die wetlikheid van die proses wat gevolg is te bevraagteken. Dit het daarna duidelik geword dat daar ʼn laaste poging vanuit die ANC was om die komitee te dwing om te lys te wysig.

“Ons glo daardie vertraging is veroorsaak deur die ANC se ontplooiingskomitee, wat beswaar gemaak het teen die aanstelling van Phatiswa Mogopeni.”

Mogopeni is ʼn voormalige nuushoof van die SAUK wat haar teen beweerde politieke inmenging by die openbare uitsaaier verset het.

Kohler Barnard sê die bykomende regsmening steun ook die aanstelling van die 12 raadslede soos voorgehou en bevestig dat indien ʼn vakature ontstaan – soos nou die geval is – die president die volgende naam op die lys moet kies.

“Gevolglik het die president en die ANC geen ander verskroeide aarde- taktiek om die aanstelling van die SAUK-raad verder te vertraag nie.”

Volgens Baloyi het die president ook geen regsgronde om aan die nasionale vergadering voor te skryf oor hoe hy sy sake moet doen nie.

“Dit is strydig met die beginsel oor die skeiding van magte en hy is grondwetlik verplig om die raad aan te wys. Hy kan nie probeer om die reg in eie hande te neem nie.”

Die termyne van die uitvoerende hoof, hoof van finansies en bedryfshoof van die SAUK eindig binne die volgende maand en kan slegs deur ʼn raad gevul word.

“Met die ongebreidelde plundering wat ons by staatsbeheerde ondernemings oor die afgelope twee dekades gesien het, kan ons die SAUK nie langer toelaat om sonder ʼn beheerliggaam wat goeie bestuur verseker bedryf te word nie,” sê Kohler Barnard.

Die DA het ʼn beroep op Ramaphosa gedoen om die raad nou sonder verwyl aan te stel.

“Sou hy dit nie doen nie, sal die DA oorweeg om die president hof toe te sleep vir die versuim om sy grondwetlike en wetgewende verpligtinge na te kom.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.