SAVR doen ernstige stappe teen varkpes

Foto: Verskaf

In ʼn poging om Afrika-varkpes (ASF) doeltreffender te bekamp en bewustheid te skep, het die Suid-Afrikaanse Veterinêre Raad (SAVR) onlangs na dr. Leana Janse van Rensburg van die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling uitgereik om inligting oor die bekamping van ASF te bekom en bekend te maak.

Die departement sê hy meen dat ASF-beheermaatreëls hersien moet word, aangesien die risiko’s steeds hoog is dat baie kuddes besmet kan word.

Volgens die inligting wat die departement verskaf het, versprei die virus baie vinnig deur wisselwerking en kontak tussen varke, mense en besmette vleisprodukte. Kontak tussen varke van verskillende plase, veral op veeveilings, hou dus ʼn beduidende risiko vir die verspreiding van die siekte in.

“Wanneer ʼn uitbreking plaasvind, hou dit ernstige produksie- en ekonomiese gevolge vir boere en die varkbedryf in, aangesien tot 100% van ʼn trop kan vrek of van kant gemaak moet word,” sê Van Rensburg.

Uitbrekings lei gewoonlik tot ʼn uitvoerverbod op varke en varkvleisprodukte uit die lande wat geraak word. Varkvleispryse daal drasties laer as die markkoers, wat ʼn ongewenste uitwerking op die winsgewendheid van die varkvleisbedryf het.

Die departement het aangedui dat hy nou saamwerk met verskillende organisasies en belanghebbendes om vas te stel waar daar in die waardeketting ingegryp moet word om die verspreiding van die siekte te verminder.

“Die veeartsenykunde is ʼn belangrike belanghebbende in enige siektebeheerstrategie en veeartse asook veeartstegnici en -verpleegsters is ʼn integrale deel van varkpesbeheer. Alle belanghebbendes word aangemoedig om bewustheid te skep onder die gemeenskap en medevarkboere,” sê sy.

“Biosekuriteit is die sleutel om ASF in varkkuddes te voorkom. Koop slegs varke van bekende en gesonde kuddes, moenie besoekers/voertuie naby jou varke toelaat nie, hou ʼn paar skoene en klere aan wat jy slegs gebruik as jy met die varke werk en voer liewer nie kombuisafval wat vleisprodukte bevat aan die diere nie,” sê sy.

Mongezi Menye, uitvoerende hoof van die SAVR, het die belangrikheid om ASF aan te meld beklemtoon. “Ons veeartse moet die siekte ernstiger opneem en die protokol moet strenger gevolg word wanneer ons met varke op plase en in klinieke werk.”

Hy sê boere is soms huiwerig om tekens van ASF by die owerhede aan te meld weens die verwoestende finansiële en emosionele uitwerking op hul inkomste. Hy beklemtoon egter as daar enige tekens van ASF sigbaar is, moet die boer dit by die staatsveearts aanmeld of by ʼn privaat veearts wat dan aan die departement verslag sal lewer.

“Dit is ons verantwoordelikheid as veeartse om die departement te help met hierdie proses deur ʼn vinnige diagnose te doen en so vroeg moontlik volgens die simptome op te tree, in plaas daarvan om die varke te behandel vir ander moontlike siektes en sodoende toe te laat dat besmette diere mekaar aansteek.

“Plaaseienaars kan as ʼn gemeenskap saamwerk om hul bure te beskerm. Dit sal die finansiële trefslag verminder wanneer verskillende plase geraak word weens ʼn gebrek aan ʼn vroeë ingryping,” sê hy.

Simptome

  • In ernstige gevalle kom ʼn hoë koors voor en vrektes gebeur vinnig, binne twee tot tien dae.
  • Sterftes kan tot 100% wees en die siekte versprei vinnig tussen varke wat kontak maak.
  • Ander kliniese tekens sluit onder meer in aborsies by dragtige sôe, swak eetlus, depressie, asemhalingsprobleme, verswakte agterpote, braking, bloeding in die neus of rektum en diarree, asook die vel in die ore, buik en bene wat rooi verkleur.
  • Sommige vorme van die virus veroorsaak minder ernstige simptome, hoewel sterftes nog tussen 30% en 70% kan wees.

Wat is ASF?

Afrika-varkpes is ʼn aansteeklike virussiekte wat wilde en produksievarke aantas. Uitbrekings kan tot ʼn hoë aantal vrektes lei. Dit is nie aansteeklik vir mense nie. Die siekte is die eerste keer in die vroeë 1900’s in Afrika opgemerk en het verder versprei na lande in Asië en Europa.

Tans is daar geen behandeling of entstof vir ASF nie. Dit is moeilik om die oordrag van die siekte te beheer. Bewegingsbeperking en die vankantmaking van kuddes is dikwels noodsaaklike beheermaatreëls vanweë die vinnige verspreiding van die virus.

Die bedryf is afhanklik van streng biobeveiligingsmaatreëls om verspreiding te beperk. In Suid-Afrika is daar gedefinieerde ASF-beheerde gebiede in Limpopo, Mpumalanga, Noordwes en KwaZulu-Natal, waar die siekte endemies in vlakvarke en sagte bosluise bly.

Bewegingsbeperkings vir alle wilde en produksievarke en hul produkte is van toepassing op al hierdie gebiede om te voorkom dat die siekte na die skoon gebiede in die land versprei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.