Sebravul spog uiteindelik met ʼn naam

Kamari (Foto: Pretoria-stadsraad)

ʼn Naam is getrek uit die honderde inskrywings wat ontvang is vir ʼn sebravul by die Klapperkop-natuurreservaat.

Die stadsraad van Pretoria het ʼn spesiale kompetisie van stapel gestuur en die publiek genooi om ʼn naam te kies vir dié nuwe vulletjie wat verlede jaar gebore is.

Meer as 300 inskrywings is ontvang.

Cilliers Brink, burgemeester van Pretoria, sê daar was verskeie prettige inskrywings en van die name wat oorweeg is, was Jabari, Khumba, Kunye en Oreo.

“Ons is baie bly om aan te kondig ons babasebra se naam is Kamari. Dit is ʼn Swahili-naam wat ‘maan’ beteken,” sê Brink.

Die 11-jarige Arielle van Sunnyside, wat die naam ingeskryf het, het gesê die sebra is ʼn mooi, grasieuse dier, net soos die maan in die nagruim.

“Wat ek hou van sebras, is dat hul strepe uniek is soos vingerafdrukke. Hulle kan maklik by hul omgewing inpas en ek is verbaas dat hulle staan en slaap – dit is baie interessant,” het sy bygevoeg.

Arielle ontvang twee nagte se verblyf vir vier mense by Rietvlei-natuurreservaat.

Arielle (Foto: Pretoria-stadsraad)

“Baie dankie aan elkeen wat aan die kompetisie deelgeneem het,” voeg Brink by. “Ons was dol oor al julle name en ons waardeer julle deelname.”

Hy moedig die publiek aan om die stad se natuurreservate te besoek:

  • Bronkhorstspruit-natuurreservaat
  • Faerie Glen-natuurreservaat
  • Groenkloof-natuurreservaat
  • Moreleta Kloof-natuurgebied
  • Rietvlei-natuurreservaat
  • Wonderboom-natuurreservaat

“Ons natuurreservate spog met ʼn rits diere, soos buffels, renosters en jagluiperds en sommige bied selfs wildritte aan,” sê Brink.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Bolandse Nooi ·

Khumba was my keuse … juis oor die sebratjie in die animasie fliek wat nie strepies op die agterkant gehad het nie, maar Kamari is net so mooi.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.