Baba-sebra soek ‘n naam

(Foto verskaf deur Tshwane-stadsraad)

Om ʼn sebravul se geboorte by die Klapperkop-natuurreservaat te vier, het die stadsraad van Pretoria ʼn spesiale kompetisie van stapel gestuur.

Die publiek word genooi om ʼn naam te kies vir dié nuwe vulletjie.

“Ons wil graag ʼn naam kies wat pas by die vul se sterk en selfvoldane geaardheid,” sê Cilliers Brink, burgemeester van Pretoria. “Voorgestelde name moet verkieslik van Afrika-oorsprong wees en die betekenis daarvan moet verskaf word. Vertel ons in ʼn paar woorde hoekom jy dink jou naam pas die beste by die nuwe sebra.”

Brink se kantoor en beamptes van Klapperkop-natuurreservaat sal die topdrie name kies en die publiek sal daarna die geleentheid kry om vir hul gunsteling te stem op die stadsraad se amptelike sosialemediaprofiele.

Die wenner ontvang twee nagte se verblyf vir vier mense by Rietvlei-natuurreservaat.

Die kompetisie is oop vir almal en inskrywings sluit Vrydag, 22 Desember 2023 om 15:00.

Stuur jou voorstelle per e-pos deur aan [email protected]

“Neem gerus deel aan dié prettige kompetisie en besoek ons natuurreservate vir lekker, ontspanne buitemuurse ervarings.”

Pretoria spog met die Rietvlei-natuurreservaat, Moreleta Kloof-natuurgebied, Wonderboom-natuurreservaat, Groenkloof-natuurreservaat, Faerie Glen-natuurreservaat en Bronkhorstspruit-natuurreservaat.

Die Rietvlei-natuurreservaat is ʼn groot toeristeaantreklikheid met ʼn rits wild soos buffels, renosters en jagluiperds. Wildritte is ook beskikbaar vir besoekers.

Groenkloof-natuurreservaat bied perdry, staproetes en bergfietsry.

(Foto verskaf deur Tshwane-stadsraad)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Olive ·

Toe ek begin lees, dink ek so, ag tog net nie weer ‘n africa naam nie. En sowaar. Kan ons dit nie vir ‘n slag eg anners doen nie? Ek hoop regtig julle sal alle name oorweeg.

Kneh Mokenah ·

Noem hom Kolle, dit is eg Suid Afrikaans waar alles, wat verkeerd is, reg is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.